28 dae gelede
Chris, maak jou maar reg, want Papa wag vir jou!
Marcel van Heerden is Chris in Suidooster  ~ 

BELY, bely en laat staan; bely, bely en laat staan;

bely en laat staan,

Rhafiek en Ian moet bely en laat staan!

My gesigvel het nou al soveel plooie van kan swaarkry vir die mense van Ruiterbosch. Ek kan dit nie meer hou nie! Hoekom doen julle dit aan my?

Dit lyk vir my asof Rhafiek maar nou sy naam moet verander na Ryan, saam met Carmen begin kerk loop en vir almal meteens sê dat hy van geloof verander het. Ek raai aan dat hy ure lank moet bely en laat staan!

Wie op aarde loop klim die berge uit sonder nat of droog oor sy lippe? Mense, Rhafiek doen dit! Ek slaan my oë op na die Tafelberge! Hoe maak ons nóú weer met die Samsodiens?

As iemand nie dwelmhuise kafdraf nie, kry hulle kinders by getroude manne of as hulle nie vir Nuraan verneuk met ’n binneversierder nie, dan bou hulle ’n adventure-plek met onheilige geld – man, dis ’n oneindige gewoel in daai huis. Ek is bly hulle het nie ’n dier in daai woning nie. Is daar ’n Lentegeur vir honde? Ek twyfel soos liefde aan my twyfel! Kom asseblief tot redde!

Hier appear Sharon met die sak patats! Sy wys vir Bridgette en Mrs J dat Ian se hemp kamstig besmet is met Henry se bloed en sê Ian het hom vermoor. Verder is Bridgette daai snuffelgids en konfronteer vir Ian met ’n koevert so bruin soos die kleur van kots en grond – bruin!

Ian se pit kook, maar dit sal hom oorkom as jy kluitjies wil verkoop! Die man kan sy lag nie hou nie, nog minder kan hy opelyf kry, want só styf is sy drol!

My blus is uit – hoe kan Ian vir Bridgette sê hy moet uit sy pad uit bly? Moet sy nou in die servant’s quarters gaan bly?

Bridgette sit aan die breakfast-tafel soos pienk panther en probeer met Ian stry. Wie stry met Ian behalwe die voorsitter van die hel? Chris, stuur groete vir Stefan, want jy mango oor drie minute!

Ek’t een keer ’n dokumentêr gekyk en daarin word gesê: “He makes me bread, he wash my clothes, he’s my wife!”

So, Chris, jy sal maar vir jou moet voorberei, want Papa wag vir jou!

My uncle se tjommie het ’n Rottweiler gehad – diegene wat bekend met dié soort hond is, weet hulle is baie gevaarlik.

Hy het die hond grootgemaak sodat hy die skelms moet byt wat probeer inbreek. Die hond is die duurste kos gevoer en dit maak hom toe vreeslik aggressief en onbeskof. Die man kon later skaars uit sy huis beweeg, so bang was hy die hond vreet hom op.

By die begrafnis stoot hulle die kis in die huis met net ’n ruiker op. Die man ís toe opgevreet!

Hoekom vertel ek dit? Wel, moenie iets gevaarliks grootmaak of vir Ian vertrou en verwag hy gaan jou nie byt nie! Die mense maak almal asof dit verpligtend is om vriende met die duiwel te wees!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters