28 dae gelede
Carmen spoeg toe vir Ian vaal van die stof
desire gardner, carmen, suidooster
Carmen word vertolk deur Desire Gardner.  ~ Suidooster

DIT smaak vir my asof ek agter die kap van Nina se byl gekom het – hoewel ek nie te veel van my eie afleidings wil maak nie.

Die vroumens is die bitterste pil om te sluk! Hoe sy Wade so om haar pinkie geswaai kry, is vir my moeilik om te verstaan.

Dis so moeilik soos wat dit vir ’n vlieg is om te luister wanneer ’n mens “voertsek” skree. Wade is so vas soos ’n muis in ’n kalbas!

Aan die begin was hy mos vreeslik dikding en wou hy die vrou glad nie eens the time of day gee nie.

Toe forseer Justin hom mos in haar kloue in. En nou lyk dit asof hy glad nie kan loskom nie.

Dis dan nou ’n “ja, Nina, nee, Nina, ek is regtig jammer, Nina­”-situasie.

En niggie, wat vir elke niggie ’n drukkie wil gee, sit lekker agteroor en bekyk hoe sy Wade aan die neus rondlei!

Neef Kreef, jy sal jou moet loswikkel. O, aarde!

Dit lyk asof die soenerige skepsel van ’n vroumens jou nog verder gaan insleep! Wat dan? Dan kan jy niks doen aan haar vere nie!

Jirre, die vrou maak dinge tussen Wade en Ty ook wim. Verder geniet sy elke oomblik daarvan.

Die vrou is nie ’n kat om sonder handskoene aan te pak nie!

O, sy kry ’n definite no from me. My stresvlakke is hoog. En op my ouderdom kan ek dit tog nie hanteer nie. Netnou skop ek die emmer!

Daar haak Mrs. J en Uncle Pastor toe af. Allemintig, dit was mooi!

Dit het my laat dink aan wat ons op skool altyd tydens die atletiekbyeenkoms gesing het: “En wat kan Bridgette nou sê? En wat kan Bridgette nou sê?”

Sy kan niks sê nie, ja. Sy moet net haar bolip haar onderlip laat ontmoet en stilbly. Haar ma is gelukkig, al gooi die ou elke dan en wan so ’n tantrumpie.

Genade, die oompie hunker darem deesdae erg na die vleispotte van Egipte.

Ian is mos geneig om daai werkers van hom so op hulle plek te sit. Toe spoeg Carmen hom mos so vol stof dat hy sy lag nie kan hou nie. Hy’t nie dít sien kom nie.

Ek het so lekker gelag, my toontjies het skoon omgekrul. Ek kan sweer die man is BFFs met Lucifer.

By the way, hoe is dit dan dat Ian en Lee-Ann nou so lekker saamwerk? Waar brand dit? Ek ruik ’n rot. Ek ruik ’n helse rot. Ek slaan my oë op na die berge!

AB het amper ’n hartaanval weg toe daai rampokker die apteek invaar en moles kom maak.

Dis ’n baie goeie ding dat hy die apteek besit – vir die skok kon hy sommer twee hande vol bloeddrukpille sluk.

Die arme oom was so bleek soos ’n spook en Ian is net vaal van die man. Asvaal!

Verder kom Bianca vreeslik jammer sê – vir al wat ’n mens is in Ruiterbosch. Sy kan bly wees sy sien weer die sonlig. Ek juig van blydskap. Mense, amper was Moena se blom heeltemal verlep!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters