Verlede maand
Bridgette moet eerder net in haar nes bly
Denise Newman  ~ 

NOU is die straatslapertjie Bianca darem erg verrinneweer – vuil, moeg, uitgerafel.

Sy lê en braak sommer daar waar sy op daai vlakte wakker word.

Mense, die gort is so gaar soos ’n pot oats-pap wat vir 20 minute gekook het! Die kind is by breekpunt – almal kan dit nou sien! Op ’n kol was ek oortuig dis klaarpraat met haar toe hulle haar so met rooi oë soek.

Moena en Stefan het amper Tafelberg uitgeklim, maar gelukkig is dit toe nie nodig nie – die verlore kind is gevind. Prys die liewe Here.

Almal is vies, deurmekaar, bekommerd, suur en bitter! Ja, vandag is ek blyer as ’n Lotto-wenner dat ek nie in die Samsoedien-huis bly nie!

Net toe dit mik asof dinge tussen Zoe en Wade weer koers gaan vat, loop dinge alweer links van die regering.

Nina het wel geen plek gehad om Zoe so in te se nie en dalk moes Wade vir Zoe opgekom het.

Maar hier sit Zoe nou op Hartseerfontein se vlakte omdat sy ’n mond soos ’n skeermes het.

Soms moet jy net jou mond hou, op jou knieë val en vir die beste hoop.

Kan iemand Zoe asseblief daaraan herinner dat die mens wik, maar God beskik.

As Nina nie vir Zoe op ’n manier slegsê nie, vir Wade ’n armbandjie gee wat van blare gemaak is of tak wil brand vir ’n vuil gees nie, wil sy vir Oos-Wes aanvat oor hulle seekos.

Hoe is dit met haar? Moet ’n mens net sand eet en water drink?

Ek het ’n vermoede hier is iets dieper aan die gang met niggie, maar in hierdie stadium is dit nog net die oortjies van die seekoei wat aan ons bekend is.

Ek is óp van die shorts, man! Speel vir my die movie! Sy’s ’n vreeslik geheimsinnige boomsoenagtige skepsel. Sy maak my moeg. Skep vir my ’n bak prawns!

Julle, hoe oulik is Pastor nie met daai videokamera nie? Hy wil nou kamtig alles opneem in geval hy die dag nie meer kan onthou nie. Te kostelik!

En wat sal Bridgette nou weer makeer? Dit loop nou weer met haar siel onder haar arm.

Vir wat moet die troue van Pastor en Mrs. J vroeër wees? Los die mense – laat hulle maak soos hulle lus is. Loop sê liewer vir Ian die hel het klaar ’n baas. Nog ’n ding, Bridgette, bly asseblief net in jou nes, dan bly jy ongekwes!

Zoe moet onthou sy het vir Wade gelos en nie andersom nie. Dit lyk asof Wade nou heeltemal gekies het vir watter team hy bat.

Hy slaan darem nou vir Zoe vir ’n 6 in elke innings. As my outjie so niks met my te doen wou gehad het nie, het ek maar vir my nog een loop los duik.

Duik vir jou geluk, my heuningpot! Jy loop nog maklik met ’n kabeljou weg terwyl jy ’n snoek soek.

  • Onthou om my Facebook-blad “Marvin Borcherds Waai met Suidooster” op Facebook te “like” en “share” en word deel van ál die drama van Ruiterbosch!
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters