2 maande gelede
Bridgette hou Pierre soos ’n troeteldier aan
Gérard Rudolf is Pierre in Suidooster  ~ Jurgen Marx

VAN alewig op straat wil wees, sal die Mercedes-meisiekind nooit kans kry om haar hare droog te maak nie! Ek dink nie sy is bewus daarvan dat ’n mens stinkneus kry van heeldag met ’n nat kop rondloop nie.

Die hele Ruiterbosch is besmet met manne, maar sy wil Zoe s’n hê – waar kom sy só reg? Verder is Wade soos putty in die vroumens se kloue en sy is so dikvellig soos tien renosters. Die man-steel-skepsel maak my kort van asem. So, ek weier om ’n sekonde langer van haar te praat. Haar maniere is platgetrap op die grond, sy is vier vlakke bo moedswillig en haar ouers staan en huil in hulle hande omdat hulle dogter rooi hakskeentjies het en nie kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. My oë is beslis opgeslaan na ál wat ’n berg is!

Tim met sy skeermesmond kon homself toe weereens nie keer nie. Live en in charge en toe beledig hy Michelle binne-in haar bakkies oor die bababesigheid. Die vrou weet nie waar sy haar kop moet druk nie. Sy hardloop sommer toilet toe sonder ’n pee. Tim is die pits! Hy moet darem op ’n dag vir mý probeer slegsê, hy sal sy ma verlang. Almal is te versigtig vir die klong, my gits. Ek sal sommer met my Charice-pienk hoëhakskoene op sy tone trap, sonder ’n uitnodiging!

Moena en AB kan nou sien dat dit nie die moeite werd is om ál wat ’n mens is te help nie, want sommige mense waardeer dit eenvoudig net nie! Daar loop smyt Wade vir Bessie om en skiet tonne spek asof hy met daai vark geboer het. Die lewe se eerste reël is dat jy nie goeie mense vir ’n one vat nie. Dit staan nou wel nie in die Bybel nie, maar die dag as dit daar staan, onderstreep ek dit in rooi en courier dit vir hom!

Daar sit hy nou op Moedverloor se vlakte sonder ’n kar en met R20 000 se vuil geld wat die kerk nie eens wil hê as ’n offering nie. Dit alles oor ’n kaalkop-klong en ’n rowwe meisiekind wat klink asof sy sub A net deur die venster geloer het! Die mense laat my harder as my hoenders kraai en hiervoor het ek nie geteken nie. Ek dagvaar môre!

Hoekom lyk daai blonde klong wat in Oos-Wes werk, se gesig alewig soos ’n babavoëltjie s’n wat sien sy mamma is op pad met ’n wurm? Opgewek en hups! Hier is vir jou ’n lawwe slang in die gras!

Hier kom ’n ding wat stink. Ek ruik hulle so uit. Ek het net twee talente – die een is pannekoek bak en die ander is k*k uitruik. Pasop! Moenie sê ek’t julle nie gewaarsku nie, nè?

Verder voel die kykers dat die polisieman met die mooi gesig ’n persoonlike geskenk van God is. Ek wonder.

Dat Bridgette die Pierre-man soos ’n watse troeteldier aanhou, laat gril my elke 15 sekondes! Regdenkende mense is vir nou eers iets van die verlede. Wie het dan nou nog ’n matrieksertifikaat nodig­?­

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters