15 dae gelede
Bridgette deel haar man met ’n ‘lady of the night’
denise newman, bridgette october, suidooster
Denise Newman vertolk die rol van Bridgette October in Suidooster.  ~ Verskaf

JULLE kan maar nou maak net wat julle wil, die Sharon goose het vir Ian so short dat hy sy lag nie kan hou nie! Sy vaar Ruiterbosch in en kom krap alles net om.

Haar hele siel is so deurmekaar soos ’n tienerseun se slaapkamer en elke keer dra sy net ’n beter bont rok. Waar sy al daai tiere en luiperds geslag het om elke dag ’n beter pels aan te trek, gaan my verstand te bowe!

Dit smaak my asof dis hierdie vrou se stokperdjie om ander mense se siel uit te trek soos daai plasters wat ’n mens se pitpuisies so lekker uittrek! Sy is die raamwerk van ’n tameletjie – taai!

Ian, dit kom nou daarvan as jy nie jou broek opgezip kan hou nie.

Die geskiedenis is geneig om hom te herhaal en hier’s nannas! Sy soek nie jou geld nie, sy soek nie jou vliegkaartjies nie, sy soek jou hart.

Jy het haar destyds te lekker werk gegee en nou, ná jare, kan sy dit nie resist nie. Ek ruik weer ’n paar rotte en dit ruik na klam, vergete wasgoed!

As Bridgette maar net moet weet sy het weer ’n man gedeel en dié keer met ’n lady of the night, is haar beroerte net 20 minute weg! As my man my soveel slape­lose nagte gegee het, het ek hom lankal gelos. Wie het lus om alewig so oor ’n mens se skouer te loer.

Ek sal hom dagvaar dat hy nie ’n onderbroek oor het nie. Mense se besluitnemingsvaardighede verg dat ek daagliks drie keer by my kalmeerpil-sakkie moet draai en ek hou nie daarvan nie!

Kan ’n mens nou in een huis grootword soos Lee-Ann en Bridgette, maar die een is sturvy en die ander een gham? Die een het seker sterk lekkers geëet en die ander een marshmallows.

Bridgette dink mos ’n bietjie geld verander jou in ’n Cinderella. Jitte, auntie, as jy maar net moet weet dieselfde bankrekening waaruit Ian vir jou ’n sent gee, is ook die een waaruit hy sy prossies betaal!

Hoekom klou jy so aan dié man? Wat probeer jy bereik? Kan iemand vir my asseblief ’n asynlap bring vir my koors!

Ek bedoel, Justin kan maar model. Hy is baie aantreklik. So simpel soos een plus een, maar aantreklik. Hy mag maar op die New York Fashion Week se planke loop!

Hy moet net oppas dat daai agent hom nie kamer toe nooi nie, want dan gaan die potte prut – daai Blaise lyk reeds asof hy vuur kan maak!

Dis nou al maande dat Rhafiek nie ’n sent inbring nie. Slapgattigheid moet as die agste doodsonde beskou word.

Jy sal moet opstaan. Al werk jy nou ook by die Spur of verkoop curry bunnies, doen net iets.

My gits, geen mens kan so voor die TV lê en die omnibus van goed kyk terwyl die vrou haar nerfaf werk nie. Judge Judy betaal jou nie ’n salaris nie!

Ons skinder weer volgende week lekker verder!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters