Verlede maand
Bianca, Siya soen jou net vir meer nulle op sy pay cheque
Gantane Kusch is Dr. Siya Thuli in Suidooster.  ~ 

CHRIS kan snags in die hondehok loop lê om te sien wie op die werf drentel en Ty of Rhafiek kan vir hulle ’n lapkombers op die dak smyt!

Daar is 89 mans in Ruiterbosch, maar nie een van die pap snoeke kan die nuuskierige agies vastrek nie! Dit werk vreeslik op my senuwees as mense soos hoenders dink.

Ek dink ons moet vir Bennie ’n kaartjie bespreek op die Translux-bus sodat hy maar kan huis toe gaan. Rammetjie-uitnek maak al wat ’n mens is vies, behalwe vir Mrs J, wat die mooi in alles sien. Genade, jy kan ’n lelike ou padda in Mrs J se hand sit, dan sal sy sê: “Haai, julle, kyk die mooi ou dolfyntjie!” Nee, man! Sien ’n ding vir wat dit is.

Laat die kind huis toe gaan. Sy twak is nat voordat hy vir hom ’n sagte kussinkie van Danni se hare maak en vir haar met ’n kop los wat plek-plek bewolk is.

Ek het onlangs by ’n wonderlike woonstel ingetrek en reg bo my het ’n ouerige vroutjie gewoon wat my laat dink aan ’n sponskoek: bleek, sag en nog nie versier nie. Die antie het my vreeslik ongemaklik gemaak. As jy haar nie hoor haar keel uitkrap nie, krap sy vir die droskatte ou rys los. As dít nie gebeur nie, nies die vrou asof Namakwaland se blomme in haar voorkamer groei.

Sonder aansien des persoons het ek weer sak en pak na my mamma toe gehol toe ek sien hoe loer die besige vrou deur my sleutelgat toe ek maak asof ek geslaap het.

Die vrou het my die horries gegee. So, hoe moet arme Danni en Zoë nie voel nie? Die twee sal hulle maar moet vermom sodat daai jakkalse heeltemal verward deur die lewe gaan. Koop man-man ’n braided pruik by daai harewinkel naby die Bellville-treinstasie. Die pantie-snuiwers sal hulle glad nie herken nie.

Wil julle vir my sê dis makliker om die kakkerlakke teen die donker muur te sien as ’n groot, uitgegroeide man wat rondhardloop?

Kyk net hoe gebruik Siya vir Bianca om ’n bevordering te kry. Die vroumens rinkink met rooi hakskene wat amper maroen trek en dink die man is opreg met haar. Meisie, die man soen jou vir nog nulle op sy pay cheque en jy’s te vaak! Die ding ruk binnekort by Danni, wat praat jy?! Toe hulle daai morning die gees van onderskeiding uitgedeel het, het Biancatjie verslaap. Sjym.

Bridgette se rok was ’n ramp omdat Mymoena een van Stella se zips aangewerk het. Bridgette, met ’n breë rug buk ’n mens ordentlik!

Onthou

AB se gevoel was reg – dis omdat hy en Mymoena ook Moslem is dat daai man met die grys hare vir die aanbod ja gesê het. Was dit nou net ek en my metgesel wat daar gestaan het, het hulle sommer by die deur omgedraai soos ’n hond as jy vir hom voetsek skree. Alles in die lewe gebeur vir ’n rede.

Onthou om my blad Marvin Borcherds Waai Met Suidooster op Facebook te like.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters