2 maande gelede
As Bianca nou al pee koop, moet ons hard bid
Foto: www.tvsa.co.za  ~ 

PASTOOR Ronald dra glads twee dae dieselfde hemp – nogal een met ’n kerrievlek op.

Waar brand dit?

Mrs. J is eers bekommerd, want vir wat moet die oom dan nou ’n vuil hemp aantrek as Mrs. J so oppit is met die wasgoed?

Dit laat haar wonder of oupa Ronnie in die bol gepik is, maar nanna kap zip. Ons vra kamma maar net so bolangs uit daaroor en oupa koes-koes so vir ander vrae wat dalk kan deurkom.

Die oupa verkoop taamlik kluitjies­ – hoeveel kos een? Daar is sommer nog baie vrae!

Ek het in my lewe nog nooit iemand gesien wat ’n stapler so eenkant toe smyt nie.

Die oupa smaak niks lekker noudat hy so vergeet nie.

Siya besluit toe om nog petrol op die vlamme te gooi en maak die oompie vieser. Die petrol is klaar so duur, wat sal Siya makeer?

Die oom het niks lus vir ’n klomp fieterjasies nie. Shame, sy hart sak elke keer in sy skoene, maar hy speel die game nogal kwaai.

Met die lag kom hy glad nie! Sy defence­ is wawyd wakker nes ’n student by ’n Woensdagaand-kuier!

Toe Bianca AB verskree dat hy Stella se stiefoupa is en nie haar regte oupa nie, word my oë nat.

My hart breek toe in 423 stukkies, ek rol vir my so drie stukkies two-ply toiletpapier af en treur saam met die Samsodiens asof ek ’n doodstyding gekry het!

Hoe durf die meisiekind so iets kwytraak? Die man was nog net goed vir haar. Sy wil almal hiet en gebied soos watse queen!

Stefan, ek juig hier op ál wat ’n gospelkoortjie is! Ons is bly jy het ingetree. Dis definitief time to face the music.

Jy gee nie daai kind terug nie, al kry jy ook 17 lasbriewe. Laat niggie eers die juk afgooi, dan praat ons weer! Sy neem daai hele huis op horings.

Sy is so rou soos ’n stuk vleis in ’n slaghuis. Kan ons almal asseblief op ons knieë val en haar opdra?

Ek het al baie gehoor en gesien, maar nog nooit van iemand se pee koop om ’n toets te fake nie.

Die Here is my Herder...

En dan natuurlik kry jy vir Danni wat altyd die mooiste in elke situasie sien. Haar maniere is net so mooi soos daai hare van haar!

Sy fight haar pa tot redding, sy fight vir Eben tot vlugting, sy fight vir Tim tot hy weer ordentlik is.

Nou fight sy weer dat Chris en Vivienne mekaar nog ’n kans moet gee. Sy is deur en deur Iyanla: Fix my Life!

Toe Rhafiek vir Stefan so aan die arm gryp en insê, dink ek dis klaar met kees. Meanwhile staan Stefan sy man.

Rhafiek, moet jou nie kom groot hou nie, asseblief. Loop slaan jou vure by die huis dood!

Stefan weet van kos maak. Môre oormôre is jy ’n kale R40-pakkie Shoprite mince en ek hou nie van mensvleis nie!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters