22 dae gelede
Arme Bianca is malverlief en Siya droom oor Danni
Danni (Vashti Prins) krap deesdae in Bianca se slaai.  ~ Foto Verskaf

EK KOOP elke Vrydagaand vir my ’n Boxmaster en ’n side piece by KFC. So, ek koop eintlik vir my ’n Boxmaster en ’n Danni, want niggie is dan nou daai ware side piece, my gits!

Siya wil nou sy brood alkant gebotter hê. Hy moet pasop, daai broekies van hom sit al klaar so styf en brood speel met g’n minne mens nie; hy laat jou soos bier opswel en uit jou nate uit bars! Laat dit sommer ’n deftige waarskuwing wees vir julle almal wat julle kieste so vol brood prop!

Bianca is nou so verlief en oefen dit kliphard uit asof iemand vir haar ’n kurses aangebied het in hoe om verlief te wees. Niggie koer soos ’n uitgekletterde duifie terwyl Siya voor sy geestesoog sien hoe hy vir Danni oor die drumpel dra!

Bianca poeier haar gesig dag en nag, Campura die hare en koop week ná week vir haar ’n nuwe rok by Choice Clothing saam met haar tip-geld wat sy by Oos Wes kry.  Dít alles om vir Siya te beïndruk, wie se ooghare by die sekonde minder raak vir haar! Ek wil al vir my so uitsit vir ’n man? Hy sal hom wat verbeel!

Die meisiekind kan sien die man gooi lou water in haar koppie, maar sy wil steeds die flou tee drink. Nee, ruk daai velletjies van jou oë af en sien ’n ding vir wat dit is. Julle, as daar ’n prys was vir ongelukkig in liefde, sou sy dit wen! Shem! Gaan kerk toe, die Man van Bo het vir ons almal ’n dekseltjie, selfs vir die panne!

Vergeet Lee-Ann dan nou dat sy met krummelpap en peanut-botter en jêm grootgeword het? Noudat sy die grênd funksies bywoon, is sy die beste padda in die vlei! Vir wat vat jy vir jou ’n man met vuil olie-naels wat die etiket-klas deur die venster geloer het?

Sy moenie haar hoogmoedig kom hou noudat sy meer nulle as hy pay nie! Voëltjies vlieg in die lug, maar hulle vreet op die grond! Kom aarde toe, Nanna, hier’s lewenslesse vir jou hier onder!

As ek Ty is, begin loer ek solank bo oor die agterdeur en vat sommer daai meisie wat sy gatsbys so aanmekaar slaan! Lee-Ann maak my te vies, man!

Ek wil gou weer na ou Biancatjie  terugspring! ’n Oompie in George het eendag gesê “ek was net een keer in die somer en ’n bietjie minder in die winter” – ek het amper op my rug geval, want dit wil sê hierdie man was glad nie in die winter nie! Genade, gee my krag!

Ek bid dat Siya dadelik minder was, want op dié manier sal sy suur reuk dalk vir Bianca ’n ander draai laat stap soos ’n kokkerotjie wat sien daar staan die Doom-blik! Iets moet net gebeur, want ek is raadop!

Dans

Die mense gee my stres. Agter  Danni se ribbe is dit seer, asof haar asem op ’n plek vassteek. Maar haar skuldgevoelens skuif by die ruite uit! Dames, stof julle hakkies mooi af, want die poppe gaan ballroom dans!

Ons skinder weer volgende week! Koebaai!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters