7 dae gelede
Almal treur toe verniet oor Danni se selfmoord
frenemies: Danny (Vashti Prins) is alweer in ’n kompetisie met Zoe. foto verskaf  ~ 

EK BARS uit my nate uit ... Danni leef tog!

Hoe kon Danni dit aan ons doen? Die hele Ruiterbosch is in rep en roer. Danni se beweerde selfmoord het vir my in ’n papte gestuur!

Ek was so deurmekaar soos ’n baba in ’n topless bar. Soveel so dat ek Dinsdagoggend laas geëet het en my toestand verswak by die minuut!

Ek het getreur net soos my teefhondjie destyds getreur het toe ons haar kleintjies weggee. Dit was ’n tragiese situasie. Ek was daarvan oortuig dat iemand my hart­snare aan mekaar moes sweis. Ek lewe op genade-ure!

’n Skelm se vet sal altyd uitbrand en ’n moordenaar se vel sal sommer van sy gesig af smelt! Só voel ek oor daai Rudolf-klong!

Ek kan nie glo dat hy snags aan die slaap raak nie. Hy draai knaend by die apteek. Dit dui vir my aan hy stop hom vol gifstowwe, asof hy die pyn van ’n swaar gewete kan wegsluk met ’n verdomde pil! Hoe kan hy daai pragstuk wat Danni is, deur soveel smart sit? Die duiwel sit kiertsregop in sy agterent!

Tim, laat dit nou vir jou ’n les wees! Iemand sal vir die spanne ’n crash course in besluitneming moet aanbied, want g’n mens op God se groen aarde kan sulke slegte besluite neem nie!

Ek wil nooit eendag sulke kinders hê nie. Ek koop liewer vir my ’n dieretuin. Ek hunker dag en nag na die vleispotte van Egipte!

My gebede werk gewoonlik op almal, maar as dit by Tim kom, val dit plat soos ’n koekbeslag wat jy in ’n oond druk sonder bakpoeier.

Moena, jy, antie, het nou vir jou probleme op die hals gaan haal met die geniepsige Kaashifa en ek was hierdie goed vir jou voor, maar hoor is min!

Wat is daai goed langs jou kop? Ornaments? Hier steel die vrou jou show onder jou neus uit en ál wat jy nou van jou eie het, is smart en ’n gemengde stel kopdoeke!

As jy jou oë uitvee, dan lê niggie seker in jou bed saam met jou man!

Ja, ek moet jou so onder hande neem. Luister ’n bietjie na my, die meisiekind is ’n pofadder. Liewer bang Jan as dooie Jan, my blom!

Die wegraping is seker naby, want wat de donner gaan hier aan met die liefdesdriehoek van CK, Siya en Justin? Is die mense van lotjie getik?

Is daar net een enkellopende nooi in Ruiterbosch? Wat van die Waterfront? Parow Centre? Town Centre? Vangate Mall? Net één single meisie?

Ek slaan my oë op na die berge! Ek het te veel vrae en niemand het vir my antwoorde nie. Ek het niks aan enige iemand gedoen nie, maar julle doen dit aan my.

Waar bly julle ouers? Ek blameer vir hulle. Siya, ek het meer van jou verwag. Laat Justin nou maar daai dame besig hou. Ek sê vir jou, snags is ál die katte grou, kom uit daar!

¦ Like en share asseblief my Facebook-blad “Marvin Borcherds Waai met Suidooster” en kom fitna weer volgende week alte lekker, nè!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters