27 dae gelede
Almal se muisneste gee my serious hoofbrekens
denise newman, bridgette october, suidooster
Denise Newman vertolk die rol van Bridgette October in Suidooster.  ~ Verskaf

BAKVISSIE October is nou verlief op stadsjapie Pierre­.

Verder slaan ek my oë op na die berge. Ek is op soek na hulp vir dié vrou, wat nie kan sien die man is besig om haar lam oë toe te druk nie!

Die affêre laat my dink aan ’n meisiekind wat saam met my op skool was. Kom ek noem haar gerieflikheidshalwe Fiona.

Fiona was beeldskoon en haar hare was so glad soos jou pa se driveway wanneer dit begin reën.

Sy was elke Maandag afwesig. Niemand kon dit verstaan nie. Niemand het ooit gevra nie.

Op ’n dag draai ek ook stokkies en loop vir Fiona en ’n man raak wat soos haar oupa gelyk het. Sy het nog nooit so vinnig agter ’n boom ingespring nie.

Fiona en die horingoue oom was in ’n verhouding. Sy kon hom net op ’n Maandag bespring, want die res van die week het hy aan die res van die dorp se oumas behoort. Sy’s ses ratte voor die oë gedraai!

As Bridgette dink hierdie glib­berige man – vir wie sy so kiertsregop staan en vry en op kantoor spasie maak – gaan haar nie vir ’n one vat nie, het ek 17 trokke vol nuus vir haar!

Sy maak ongeleerde besluite – soos iemand wat in sub A net deur die venster geloer het! Dis mense soos sy en Stefan wat my elke liewe aand laat mik na my kamermaat se goedkoop brandewyn! Môre, oormôre sit ek met ’n geplooide gesig en hulle kap aan met die lewe asof Moses nooit by die see betrokke was nie. G’n mens kan so aspris deur die lewe gaan nie!

My kar se ratte gaan van een tot vier en dan vrek dit.

Ek moet elke dag vreemdelinge ’n lift werk toe vra. Iemand kan gerus vir my ’n kar koop!

Genade, in hierdie stadium sal Fiela se donkie ook doen. ’n Mens kan nog nooit so sukkel nie.

Wade kan bly wees Mymoena verlang na daai stout klong van haar wat in Amerika sit en poeier snuif. Die vrou is diep lus vir ’n hanskind!

Hoe raak jy jaloers as jou eks­meisie besluit om ’n doughnut uit ’n ander man se hande te neem nadat jy haar verneuk het? Hoe kry Tim dit daagliks reg om van sy kop af te raak? Die klong se hele houding is 47 nagmerries en my niere bly aan die pyn!

Wie het Bianca daai morning afgeraai om Stella by haar beste vriendin se man te kry? Niemand!

Waar kom sy so lekker reg om advies soos bakkies brijani by ’n begrafnis te kom uitdeel? Sy moet haar asseblief in toom hou. Sy weet sy’t ’n gedragsprobleem!

Stefan het sy bont varkies verloor en Michelle weet nie hoe sy dit het nie. Haar hare is skoons skeef gevleg van verwardheid!

Michelle het so lank laas ’n man gehad. Dit maak nou nie eens meer saak of die man reg wys is nie, solank hy net ’n broek dra en koek kan bak! Ek soek ver meer as net ’n bietjie meel en suiker!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters