12 dae gelede
AB kyk Bianca se donker kringe heeltemal mis
cedwyn joel,simone biscombe,suidooster
Bianca se stiefpa, AB (Cedwyn Joel) troos haar na haar break-up met Siya.  ~ kykNET / Suidooster

NOUDAT Bridgette in haar upstairs-huis woon, vergeet sy kastig dat sy grootgeword het met suiker op haar nat brood. Sy hou haar hoër as wat Oprah se hare in die 1980’s was.

Ek kan die vrou glad nie verstaan nie. Hoe kom so ’n geniepsige skepsel uit so ’n nederige Mrs J se baarmoeder uit? Ek loop met ’n klomp vrae rond wat my geweldig pla. Dis dié dat haar verhoudings met niemand hou nie. Net ’n ma kan so ’n mens liefhê, die Here is my Herder!

Arme Wade soek letterlik vir Zoë met rooi oë nadat hy so vreeslik met daai goed gespray is. Vir wat skop hy die tafel ’n tweede keer om en dis nie eers donker nie?

Raak ’n mens blind as jy vry en verlief is? Ek vra, want ek was nog nooit verlief nie en as dít die nagevolge is, moet niemand my tog ooit oor die drumpel dra nie!

Zoë sal daai skeermes-mond van haar ook moet watch. Sy kan nie so gal afgaan net omdat sy van bank tot bank in ander mense se huise wil lê en vry nie. Hulle twee moet maar hulle eie nessie bou as hulle dan nou so vreeslik aan mekaar wil kou!

En hoe is dit moontlik dat jy ’n eiendomsagent is, maar jy weet nie van één flat in die Kaap wat beskikbaar is vir jou uitgekletterde maniere nie? Dit noem ek moedswilligheid op hoërgraad. Nee, man!

“Dis deur my bek dat ek vandag hier lê,” het Kopbeen destyds gesê toe hy daar dood lê. ’n Mens moet weet hoe om saam met ander mense te leef, anders slaap jy alleen in ’n mansion. Vang tips!

Bianca is weer so rats soos ’n rot en hardloop die strate van die Kaap plat. Sy suip hier ’n bier en daar ’n tequila en boonop sluk sy nog weer daai geel pille wat haar amper laat sterf het. Hoe het AB nie die ander oggend daai vreeslike donker kringe om haar oë gesien nie? En waar kry sy daai kombers waarmee sy haar toegegooi het toe sy in die voorkamer lê en tiep?

Lê daar sommer net so komberse in daai huis rond? Sien julle, ek het ontsettend baie vrae?...

Carmen-hulle moet nou weer vure­ doodslaan soos wafferse brandbestryders, anders lê niggie weer op straat.

So, Kate kom toe Kaap toe en maak asof sy na haar dogter verlang, kaantie vermy sy dit om saans onder ’n bruin kartonboks te lê.

Ek was oortuig sy vermy Albertus oor hy jol, maar dit gaan eintlik oor die sente. Geld is ’n vreeslike ding – dit kan jou laat pretend ’n stinkende man ruik lekker, solank jou tille net klop! Kyk wat het met Quinton se oom gebeur. Dié hang stokstyf in Beaufort-Wes!

Daai Lotto-geld is mos seker nou Quinton s’n, of hoe? Die nuwe ouma en oupa gaan nou daai geld vat en al aan Pretoria toe skoert en hy moet sit en brood eet oor mense nie reg lewe nie.

Ek is ’n vreemdeling in Jerusalem. Koebaai!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters