2 maande gelede
Zoe kou aan Tim soos ’n kokkerotjie op die strand
Lauren Joseph speel die rol van Zoë in Suidooster.  ~ Verskaf

VERDER staan en vry Zoe en Tim soos uitgekletterde kokkerotjies op die strand.

Die klok het 12 gestrike, toe bring Tim vir Zoe haar glasskoentjie.

Julle, Wade se hele bek is nou uit met gums en al!

As daar nou een mens is op hierdie groen aarde wat gebore is om siele om te krap en aan mense se gatte te krap, is dit Tim du Plooy.

Hy het in 2018 sy baccalaureus in Geniepsigheid aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Ek was daar toe die vraat oor daai verhoog loop. Gelukkig het ek my kardoessakkie saamgevat, want toe sit en kots ek elke drie minute!

Hoor my lied, die einde is naby, maar dié siel gaan my nie uitwis nie. Hy maak hom laat. Hy sal sy gat sien onder my, ek kook nie sag nie!

Wade het Brid­gette ook lekker in die bek geruk, maar natuurlik moet sy haar klippies in ’n sirkeltjie pak sodat sy dit na hom kan gooi met haar ledige hande. Bridge het ’n probleem met joligheid, ’n kreet vir onsin en ’n kassie vol drolle! As ons nie hierdie vrou vandag by ’n pastoor of ’n san­goma kry nie, val die hele lewe plat en vir ’n plat iets het niemand en veral nie ek lus nie!

Kan ons net kry dat Mymoena ophou kos maak en ’n slag seker maak haar man se apteek is vol hoesstroop gestop. Nee, sy moet samoosas bak en trokke vol breyani maak. Dít terwyl haar man amper doodgaan van bekommernis.

Michelle is ook so vaak, dit lyk sy slaap nie snags nie. Sy lê en wonder seker in watter styl sy môreoggend haar hare gaan vleg!

Iemand moet asseblief net vir Michelle opdra!

Hier sterf Ryan! Ek het julle gesê die kind is op pad sandkombers toe, maar niemand wou na my luister nie! Môre, oormôre moet ons almal stadig agter die klong se kis loop van dik suip aan die ratelslang se medisyne.

Kan ’n mens asseblief vir Nazeem ’n boomhuis bou sodat hy een oggend kan mistrap en dan val hy sy geil maniere onder uit? Iéts moet gebeur, anders is ons almal môre in die hospitaal vir behandeling van luiskoors wat in daai ponytail sit.

Die mense wat so sê alles gebeur vir ’n rede is dieselfde mense wat hulle vroue los vir pofadders en hulle kinders in die kar los terwyl hulle by die winkel in hardloop om wortels, beet en Chicago-sigarette te koop. Ons sukkel met hierdie mense. Hulle maak ons moeg.

Liezel se armband pas dan toe nie? Nog minder kan sy in die klub gaan. Wie het die nommer van Herbalife? Stuur dit vir haar, asseblief! Justin, soek maar vir jou ’n nuwe nooi, hierdie koddige voshaarnooi is ’n voël op ’n tak. Môre huil jy oor die langrokvrou. Sy is 100% verkeerd vir jou!

Mercedes het glad nie eens met Wade gelê nie, maar Zoe begin aan Tim kou. Hier is honger mense in die dorp, maar ’n toe bek is ’n heel bek.

Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters