24 dae gelede
Tim is in sy noppies as hoofseun van die hel
Marco Spaumer, wat die rol van Tim in Suidooster speel.  ~ Foto Verskaf

TOE hulle sê Nazeem kom kuier, toe trek ek sommer vir my ook skoon beddegoed oor.

Dit lyk die man kom lê in my bed, maar my! Hier is ’n rot so groot soos ’n olifant wat ek ruik!

Daai ponytail op sy kop kan hulle gerus afsny en gebruik as ’n bangmaakding vir die stout kinders in die crèche?...

Hy eet en gaan lê soos iemand wat geen vrees het vir ’n pens ontwikkel nie. Soms leef mense soos wie-kom-daar-aan, maar niemand sê ’n woord daaroor nie.

Dit laat my, die pastoor en die hele koor stres. Moenie toelaat dat respek hoendertande word nie!

Carmen en Rhafiek het hulle nou in soveel stront gedruk, die vlieë dink dis Krismis! Hulle smyt daai JP-vyand in die see en dink dis neusie verby?

Nee, Pappa wag vir julle! Tronk toebroodjies met droë, donkerpienk polony, sop sonder sout, blou gekookte eiers, klonterige mieliepap, harde aartappels en taai muisvleis sal jy verslind. Kos gemaak deur ’n antie wat kwaad is oor haar man jol en dan kom haal sy dit op jou welstand agter tralies uit.

Leef ordentlik dan ervaar niemand smart nie. Maar nee, ploeter aan! Blykbaar is daar ook heuning in die hel!

Daar’s sulke bobbejaantjies teen die bergpas as jy Bettysbaai toe ry wat mekaar se vlooitjies met meer moeite uithaal as wat Kate probeer opwindend wees! Waar het jy al gehoor iemand trek uit Joburg om iemand anders te kom verveel?

Mense het te veel tyd op hande. Ledigheid is die duiwel se oorkussing! Gaan plant wortels of pluk druiwe. Doen net iets... Moenie dat die lewe jou laat roes nie. Niemand hou van ’n geroeste besigheid nie!

Tim is in sy noppies nadat die duiwel hom aangestel het as hoofseun van die hel.

Die klong laat die anties en ooms drie keer hulle bloeddrukpille per dag suip en Bridgette maak net die pap dikker aan met haar hoogmoedige maniere wat sy teen die pad of op Seepunt se promenade opgetel het!

Ek sê julle – as die ding nie vandag stopgesit word nie, word daar eersdaags ’n klein krulkop­duiweltjie gebore wat vir Zoe “Mamma” noem en dit omdat sy duur drank wil drink en oysters wil eet.

Die mense verander maar... wag, ek hou liewer my smoel! Ek wil tog nie by wees nie!

Verder bel Wade van ’n tiekieboks af om die leed verder te versprei soos ’n moedswillige oom op die trein wat sy kieme na jou kant toe hoes! Waar kry ’n mens nog deesdae ’n tiekieboks behalwe in ’n storie in ’n dowwe koerant wat handel oor gestrand wees op ’n grondpad? Ek slaap nie snags nie!

Maak AB se apteek so baie geld dat Mymoena elke dag die winkels kan betree om haar vreeslike kosse te koop? Hoe kan jy dag en nag wil staan en kook?

Wanneer vacuum jy jou huis of trek bossies in jou tuin uit? Nee, iemand moet kerrie kry of hulle tot hartomleiding vreet aan ’n koeksister!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters