2 maande gelede
Stefan soen Michelle nes ’n st. 7-outjie by ’n jol
suidooster,gideon lombard,greta petersen
Gideon Lombard en Greta Petersen vertolk die rolle van Stefan en Michelle Gerber in Suidooster  ~ kykNET

DIS by tyd. Dié Jors is ’n regte agterdeur-suiper, want vir wat wil hy vriende wees met ’n tjend?!

Groot mans wat klonkies vir vriende het, kou aan vlermuise vir aandete en ons almal weet hoe dít eindig!

Dit het gevoel asof Michelle en Quinton drie jaar lank gevange gehou is, só lank is dié besigheid uitgerek! Dis soos hoe ek my sente moet rek gedurende die lockdown – mense, dis vir jou ’n saak as jy vyf keer moet dink of jy ’n brood en melk moet koop of net brood en dit afsluk met lou water.

Elke oggend as ek my bakkies skottel, loer ek by die venster uit en wonder of ons al kan uitgaan en werk, maar dan fluit daar net voëls en ’n ou oom loop met krummels om die wilde duiwe te voer.

Dis vir my ’n absolute tragedie dat ’n mens die voorbeeld van ’n skilpad moet volg as jy ’n storie wil en moet vertel!

Stefan is so bly dat Michelle daar ingestap kom. Hy soen haar soos ’n st. 7-laitie by die skool se derde sokkiejol vir die jaar! Sy versmoor amper soos hy aan haar lippe wil kou.

Nee, ’n mens doen nie dit nie. Wat baat dit jy soek jou vrou lewendig terug, maar dan vry jy haar vrek? Kry kop!

Verder loop en soek Bridgette na haar droë pram.

Haai, die vrou het dan persoonlik tot siens gesê in die hospitaal. Nou hoor sy hom in die pad af skoert soos Jakkals wat sien hier kom Wolf.

Ek sal dit nooit verstaan nie – maar deesdae verstaan ek maar so min soos wat daar data op my selfoon en kos in my kaste is.

Laat ek maar gaan werk en ophou hierdie mense se snert bestudeer!

Magtig! Ekke scheme dis Tim met sy gedagtes wat soos Sylvia lyk wat agter hierdie kens-wording van Bridgette sit.

Hy sal enigiets doen vir ’n sent, soos ’n rookverslaafde vir ’n sigaret! Al lyk hierdie klong soos Sondagkos smaak hy galbitter. Die wind moenie eens sy geur in my rigting waai nie – ek sterf sommer!

As Erica nog verder haar smoel gehou het oor haar slanery het sy seker môre begin Saartjie sing en vir ’n dronk mens is ek mos nie lus nie!

Ouma Kate wil nou vreeslik in die hoek trap vandat sy die kind vir die swyne gegooi het. Jy hoef nie stief te wees om ’n stiefouma te wees nie. Kan iemand dit aan haar oorvertel, asseblief?

Haar tingerigheid laat my gril en ek het in elk geval klein kinders wat sy maklik in die park sal los as sy hulle in die hande kry!

Ek voel steeds sy’s soos ’n hen wat nes soek. Wat is die vrou se doel hier?

Dis soos een persoon wat vir homself uitsluitlik 1 000 rolle toiletpapier koop. Dit maak eenvoudig nie sin nie. Sy’s so onopwindend soos spookasem wat vir vier dae in die son gelê het. Soos ’n hand vol vlieë – nee, man. Kom red hierdie besigheid of kom trap op my!

Ek moet ’n weg-mens wees! Sien julle in ’n dik ruk!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters