5 maande gelede
Kaashifa moet eerder sing – en nie vir doughnuts nie
jawaahier petersen,kaashifa,suidooster
Jawaahier Petersen vertolk die rol van Kaashifa in Suidooster  ~ 

HIERDIE week het die Suidooster darem sterk gewaai deur Ruiterbosch, mense! 

Daar trek AB byna sy skoene uit – was dit nie vir die kamtige vieslike Siya wat sy lewe gered het nie! 

Die koeël is deur die kerk. Rhafiek kan maar nou wát doen, huis toe na Siya toe moet hy stoot! Julle, die lewe is aan die woel hier buite! 

Ek kan nie vir Kaashifa verstaan nie. Sy verwar my soos 10 mense. Hoekom bak sy koeke en rolls terwyl sy so ’n mooi stem het?

Sy sal baie meer geld maak as sy vir haar ’n minirok aantrek en op ’n verhoog iewers haar keel gaan oopmaak. Maar nee, doughnuts is blykbaar belangriker as ’n lied of drie uit Mariah Carey se song book! Ek sal dit nooit verstaan nie; 2019 het ál my breinselle opgevreet! 

Sy kan mos maar vir Justin chise, want wat is dáár aan die gang? 

As Justin eers moet hoor hoe Kaashifa Houston kan deurkom, maak hy sommer langsaan Oos-Wes vir hulle nes en laat Kaashifa vier eiertjies in ’n oogwink lê! Ek wil nie by wees nie! 

Wil Zoë en Wade­ nou regtig bo die vis-en-tjips-winkel gaan bly? Die rotte paar soos hasies rondom die kosplekke! 

Dit is vuil, die gangsters staan om elke hoek en draai om jou te rob vir ’n sigaret, maar dit gebeur mos as jy jou stêre in die wind probeer steek!

Jy slaap tussen rotte en kakkerlakkies! Sluk net jou trots, meisiekind, dan kan jy dalk nog in die festive rondom die swembad lê en gin suip! 

Moenie so dom wees nie. Niemand hou daarvan nie. Dis beter om dronk te raak van gin as los biere terwyl jy na visolie ruik.

As jy sien jou skoonpa lê amper in sy kis, hoekom hardloop jy nie nader nie? ’n Gewone en normale mens sou so reageer, maar nie Carmen nie.

Dié staan by die deur en vra vrae soos ’n moedswillige joernalis! 

AB blaas sy laaste asem uit en sy staan teen die deur. Rhafiek sal weer moet dink oor hierdie vrou. As sy kinders kry, los sy hulle seker by die hospitaal van min kan omgee. 

Oe, ek weet nie so mooi van dié mammatjie nie. Sy’t ’n versteekte uitgekletterdheid! Volgende jaar vat sy vir haar ’n ander man! Kyk net! 

Albertus is nou skoonveld en verder troos Chris vir Kate dat die honde huil! Een van die dae word Chris seker langsaan wakker en dan sê niemand niks daaroor nie! 

Imagine dis Stefan se oom en skoonpa. Ek wonder hoe verduidelik ’n mens dit aan ’n vreemdeling of ’n gr. 2-kind!

Kate is só onopwindend soos sewe mense. ’n Mens moet dit maar so aanvaar. Sien, die Swart Boek sê ’n mens moet almal aanvaar soos hulle is en niemand veroordeel nie. 

Hoe kry ek dit reg? Niks omtrent my verstaan dié vrou nie en niemand wil haar aan my verduidelik nie, so ek moet nou die hele Kerstyd verward deur die lewe gaan!

Hoe eet ’n mens trifle terwyl jy kwyn? Ek is op!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters