2 maande gelede
Kaashifa is agter Justin soos ’n uitgekletterde duifie
jawaahier petersen,kaashifa,suidooster
Jawaahier Petersen vertolk die rol van Kaashifa in Suidooster  ~ 

STUUR vir my die nommer van die rehab-plek wat ’n mens net vir ’n week aanhou! Ek kort ’n week se rehab voor Kersfees!

Hier is Bianca weer in Oos-Wes! Hoe werk dié besigheid?

Ek’s verward soos ’n baba in ’n topless bar! Dié Lloyd het net kom stront maak. Hoekom bly hy nie weg nie? Die duiwel sit regop in sy stêre!

Kaashifa is soos ’n uitgekletterde duifie agter Justin aan! Dié klong druk haar oë so toe en sy’s te blind om dit te sien! Een van die dae is sy swanger van dié man. Ja, hierdie dinge gebeur en dan is ons kamtig verbaas! 

Wat presies doen Kaashifa in Oos-Wes behalwe lyk soos vars gebakte koekies en flirt? Sy moet vir haar ’n ander werk soek, want ledigheid is die duiwel se oorkussing! 

Wade en Zoë kry dan nou nie ’n huis om in te bly nie. Die hele Kaap is vol leë woonstelle, maar dié twee wil liewer onder die maatemmer bly en onder die vlooikomberse lê. 

Hoe kan jy wat ’n eiendomsagent is, nie vir jou ’n lodge opspoor nie? Dis ’n vreeslike situasie! Dit kom van jou stêre in die wind steek!

Sy kon nou lekker by haar sturvy antie gebly het in haar upstairs-huis met die swembad. Dis somer! Maar nee, jy wil swerf soos ’n skoenlapper wat dagga rook! 

Rhafiek is so boos vir Siya hy kan sy lag nie hou nie! Siya het sy moses teëgekom met die adrenalien-man! Dit kom daarvan as jy dwalende oë en ’n voorkeur het vir meisies met krulkoppe! Hy moet nou sy gebakte pere verslind. Hoe anders? Sak, Sarel! 

Mymoena is so aangebrand oor die hele besigheid soos môre heeldag! Dit kom nou daarvan as jy sit en tee drink met die queen van Engeland en jou huis in die hande van die ondeundes los! Sy moet nooit weer oorsee gaan nie, want van oorsee gaan maak ’n mens tyd vir jollery! 

Michelle se ouers was gereed vir opmaak en is nou weer uitmekaar? Ek weet nie waarnatoe hierdie besigheid gaan nie. Gaan hulle nou op hulle oudag maar skei of is die trousseau krap vir nog weelde?

Kate, dit kom nou daarvan as jy ’n skoolseun vat terwyl jy al vir 15 jaar in die kantore werk! ’n Mens moenie so verkeerd lewe nie! 

Quinton wil nou nie vakansie gaan hou nie... Watse kind wil nie vakansie hou nie behalwe die soort wat in die verbeteringskool sit? 

Die kind is nie lus vir die onsmaaklike ouma se drama met haar Ben 10 nie. Dis ’n wonderwerk dat hy nog nie die hasepad gevat het nie. Hy lyk asof hy baie cheeky kan wees.

Oulikheid het ook sy perke, maar niemand wil daaroor praat of daarvan hoor nie! 

Danni is so dapper soos ’n kat wat ’n rot sien soos sy daar by die apteek instap.

Mymoena is so unimpressed met haar soos iemand wat spray en seep kry vir Kersfees! 

As ek sy was, seil ek so plat, maar ek is nie sy nie! 

Ons skinder weer volgende week! Koebaai!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters