Verlede maand
Glenda is ’n niggie van die slang met die ponytail
therese benade,suidooster
Therese Benade as Glenda in Suidooster  ~ 

SKELM se vet brand mos maar altyd uit. Ek weet nie wat sy gedink het gaan saam met haar gebeur nie.

Dié dinge gebeur mos as kat dink dis Krismis!

Ek was dié goed vir julle voor – elke blondine in hierdie stuk het ’n lot van Satan! Dan is haar naam nogal Glenda ook.

Elke Glenda wat ek al ontmoet het, is ’n niggie van ’n slang.

Daar was een in my klas op skool. Ons arme onnie was elke Vrydag in sy moer gepik!

Nazeem het nou net gekom om stront rond te gooi! Hy is niks lekker vir die pot nie!

Hy is ontsettend kinderagtig. Ek kan hom tog nie hanteer nie! Loop gee die hoenders kos!

Ek sal my dood skaam as ek AB was. Ek wil nie eens ’n koppie koffie uit sy kloue uit suip nie. Hy het net die vermoë om my graf toe te stuur – met vier lepels sout!

Hy bak nou kamtig mooi broodjies met Moena totdat hy weer sy gif versamel.

Bo ’n pofadder en ’n ratel, pik niemand harder as die ponytail se eienaar nie! Van ’n donkie kan jy ’n skop verwag! Ek huil taamlik in my slaap!

Gaan Ty nou die emmer skop? Kan Wade alleen die huur bekostig met die salaris van sap in koppies tap?

As dit die geval is, ry ek sommer môre Grabouw toe en loop pluk vir my ’n trok vol appels vir sap maak.

Ek kan skaars my huur betaal, my landlord stuur omtrént sy SMS bundle uit op my. Die man soek sy geld en ek koes vir die man!

Met Ty se siekte is almal se karre in Ruiterbosch weer stukkend, want niemand anders kan mos ’n kar regmaak behalwe hy nie. Daar is mos net een mechanic in daai dorp.

Hulle sal maar nou moet begin leer en ’n taxi vat of kaalvoet op die strand draf. Dit is mos hierdie tipe maniere wat ’n mens op level 5 sit!

Verder is niggie Kate kamtig vinnig met die pen en Danni tel nie ’n foon op nie, want sy moet hierdie antie oor die berg lei!

Ek sê altyd ’n mens moet jou bepaal by die goed wat jy gebore is om te doen. Ek wonder of sy betaal om by Chris te bly en of sy maar saans by die oom inkruip sodat hy die skuld kan afskryf.

Ek het vreeslik baie vrae, maar niemand wil my antwoord nie. Ek sal maar seker die gordyn hieroor moet laat val! Ek hou niks van ’n bosrot nie!

Zoë en Tim stry vir my onlangs ’n bietjie te veel vir mense wat eergister so donkie vasgemaak het!

Ek dink dis Zoë se kort hare wat Tim so verkeerd opvryf ... Hy dink sy’s ’n man!

Ja, jy sal stry as jy om die verkeerde redes trou. Die Bybel wil hê ons moet die waarheid praat en voorbeeldig leef maar nee, dié mense loop kerk in die bos, aanbid standbeelde en sing deur hul neuse.

Dis natuurlik ’n resep vir ellende, maar klein diewe het ysterkettings en groot diewe goue kettings...

Wag, ons skinder weer volgende week lekker saam!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters