Verlede maand
Die Tim-slange wag vir jou om elke hoek en draai
marco spaumer,suidooster
Marco Spaumer vertolk die rol van Tim in Suidooster.  ~ Instagram

JY KRY ’n pofadder, ’n viper en dan is daar Tim. ’n Tim is ’n nuwe soort spesie wat niemand van geweet het nie...

Daar is ’n deel van my wat lelik word. Hier sal ek my siel moet omdraai of ’n poging aanwend om net die gedagtes van een of twee engele te laat seëvier. Die span verneder my soos ’n man wat sy veters in ’n openbare park wil vasmaak, terwyl jy dink hy wil ’n donnerse ring aan jou vinger druk. 

Ek’t julle gesê Carmen se verskoning sal nie eens ’n daggapyp werd wees nie, en daar vang hulle haar. 

Die dag as ek vir JP in die mall of op die strand raakloop, gee ek hom ’n taai klap. En ek weet soveel van baklei soos ’n aap weet van Krismis! Maar ’n pak sal hy ’n pak kry! 

Rhafiek, jy sal maar vir jou ’n nuwe nooi moet kies. Hierdie enetjie is te rats en gewoonlik is ratse ietsies peste! 

Maar jy weet mos van rondval onder die vroumense. Jy is ’n deskundige op daardie gebied. 

Hier op ’n kol het dit gelyk asof AB hom kaalstêre wil uittrek om op daai skaal te staan en sien hoeveel hy weeg. 

Kan jy jou indink hoe kom koop jy nog vir jou antibiotika en hier loop jy by die apteek in en sien net ’n ou oom se boude. Ek gril my grensloos! 

Ou man, aanvaar dat jy kilo’s optel. Jy eet dan ál wat ’n kosding is uit Moena se hande uit. 

Mymoena moet vir haar ’n nine-to-five job gaan kry. Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Jy kan nog nooit so wil bak en brou nie. 

Sy spend al haar sente op koswinkel stamps en blink kopdoeke! 

Gaan werk net, asseblief! Die oom gaan hom vrek vreet en dan wil jy in jou hande huil asof hulle jou R10 betaal vir elke traan wat jy stort! Gedra jou en loop werk! 

’n Meisie wat saam met my op skool was, het altyd laat gekom vir alles. As die byeenkoms halfpad aan die gang is, dan drentel sy in.

Sy was soos ’n dowwe foto in ’n koerant. Die ounooi Kate laat my aan haar dink. Sy is so boring soos ’n cone-lorrie wat Sondae in die straat raas as die mense wil slaap. Hoe gaan ons maak om hierdie skepseltjie op te kikker? 

Sy laat my dink aan ’n vaal pot kos. Dis net aartappels, rys en vleis! 

My oë traan as ek haar bakkies sien. Julle, ek wil regtig nie so wees nie. Lei my na waters waar rus is! 

Wade sny ál wat ’n boom is in Ruiterbosch af vir ’n ekstra sentjie. 

Dis somer, die Tim-slange lê daar en wag om jou te pik terwyl jy vir jou Jack and the Beanstalk hou! 

Dis ook maar goed dat hy nog geld maak. Hy kan nie so uit Zoë se beursie wil werk nie; dis beter om vet te word van jou pitjies in die bank as dat jy jou laat vermaak deur ’n klimeid wat haar stêre heeltyd in die wind steek asof sy punte versamel om ’n prys te wen! 

Zoë sal na haar maniere moet kyk; sy gaan hopeloos te gou en aanhoudend tekere! 

Wade, trek jou broek aan, pappa, want ’n gebraaide hoender vlieg niemand in die mond nie. Hoor wat ek jou vandag sê en nie môre nie! 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters