Verlede maand
Daar dwaal ’n meisie met ’n jakkals-pels in Ruiterbosch
Monique Rockman (Joy) en Irvine van der Merwe (Nazeem Samsodien) in ‘Suidooster’.Foto: Verskaf  ~ 

IS DAAR regtig nie ’n sielkundige wat Zoë kan gaan sien oor haar wispelturige maniere nie? Nie een nie? Hierdie tipe lawwigheid slaan my tog nie binne nie.

Sy smyt Wade op die ashoop soos Carike Keuzenkamp destyds van die lappop gesing het en nou wil sy hom kastig help en dan weer skielik nie help nie?

Wat is die naam van die dié sirkus wat in ons dorp kom kuier het?

Die apies swaai van tak tot tak en dis teen my beginsels. Al wat ek kan sê, is hier kom k*k!

Ty is taaier as sy naam! Hy steur hom aan ’n “standard of life”. My Vader, in hierdie moeilike tye hier buite wil enige mens net eenvoudig hê dat jou geliefdes asemhaal, maar hy neuk met ’n standard of living!

Arme Lee-Anne is so bang soos ’n haas vir ’n hond, want waar gaan sy nou op haar oudag nog ’n man losslaan? Sy en verhoudings het ook nie die beste geskiedenis nie.

Sy laat my dink aan oorle tannie Klinkie, wat byna elke tweede jaar ’n ander man soos ’n goedkoop Bellville-handsak aan die arm gedra het. Dié vrou was soos ’n hand vol vlieë sonder ’n man.

Dis seker hoekom ek ook nog single is, want die manne word of siek, of hulle los jou, of hulle word siek, of hulle los jou – een van daai vier goed, maar met ellende eindig jy altyd op.

Nee wat, dankie, gee my dan maar liewer ’n bier!

Nazeem praat van as hy en Tim koppe bymekaar sit, kan hulle wondere verrig! Watse wondere?

Hierdie twee laat sak sommer my pram van bekommernis, want wat is volgende op dié troewel mense se spyskaart? Julle, ek is nie opgewonde nie. Dis van snaakse goed eet dat die wêreld lyk soos hy lyk!

Hulle moet tog net nie my bors kom warm maak nie! Ek is in elk geval lus vir vuisslaan – my frustrasie is so hoog soos Oprah se hare in die 80’s was!

My onderwyser by die skool het altyd gesê “ek slaan ’n tonnel deur jou bors, daar sal nie eens tyd wees vir bloei nie”.

Nou so smaak ek deesdae – moenie met my woed nie.

Hierdie meisiekind wat lyk soos ’n model, kom loop hier in Ruiterbosch in met ’n pels wat lyk sy het nou net vir jakkals afgemaai en hom oor haar skouers laat hang!

Die luise en vlooie spring nog een vir een in die rondte, maar sy loop sit in Nazeem se koswinkel met hierdie insekte wat al oor haar liggaam kriewel!

Ek sal nooit weer ’n pakkie Paaper Bites of ’n loaf brood in daai winkel koop nie. Môre, oormôre kou my kindertjies aan kokkerotjies en ek moet ’n fyntandkam by die apteek loop soek.

Sy sal na haar moet kyk, maar wat anders kan jy verwag as jy ’n geskiedenis met Nazeem, the King of the Joburg Jungle, het?

Kate moet ’n storie oor dit ook skryf – dis mos al waarvoor sy goed is, sê die mense. Nie ek nie, die mense sê so!

Verder is daar ’n helse dief aan Mrs. J se kers. Blaas uit die ding!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters