4 maande gelede
Daai man is so gevaarlik soos daardie Chucky-pop
gantane kusch
Gantane Kusch speel die rol van die rondvryende dokter, Siya Thuli, in Suidooster.  ~ Donna Lewis

DANNI kan bly wees sy is nie ’n kat nie, anders was sy nou al potblou geknyp in die donker!

Die twee skelm skepsels kan hulle hande en lippe nie van mekaar af hou nie en Bianca loop soos watse Barbie-pop in die rondte met oë so toegedruk soos môre die heeldag! Hier sal iemand ’n taai klap moet kry, want hier is warme stront aan die gang!

Die Carmen-vroumens ken glad nie haar plek nie! Sy meng haar in soos sagte botter in ’n koek­beslag, min wetend die koek gaan sommer vir jou ernstig platval!

Sy loop heeldag in die mall rond. Hoekom gaan soek sy nie vir haar ’n huis iewers in Besigfontein wat sy kan versier nie?! Hulle betaal eintlik vir haar om haar neus in ander se sake te steek.

As Ian nog daar was, was sy vas­gepen agter haar lessenaar soos Hop Johenna. Sy vat kanse en ek like dit glad nie.

Sy laat my dink aan daai skinderpot-meisiekind wat op skool in my klas was. ’n Mens sou dink die jare sal jou verander, maar niggie staan nou met twee kinders op die heup en praat steeds met die ander anties oor die muur. Die Here het hierdie tipe gedrag niks lief nie!

Die staat kan mos lekker vir Lee-Ann en vir Zoë aanstel om die dagga en goed uit die mense se bagasie uit te snuffel by die lughawe, want vir dié twee kan ’n mens niks wegsteek nie! Hulle ruik vir jou uit soos tien speurder honde!

As jy wil snert aanvang, loop doen dit eerder in Oos-Londen, maar nie rondom hulle nie... Jy gaan net jou gat sien!

Wie is die man wat so vreeslik dansklasse aanbied? En hoekom het ál wat leef en beef nou lus om te leer dans?

Die man maak my angstig met sy vreeslike bees-gelekte hare!

Hoekom lyk dit asof hy vir Lee-Ann wil kou? Hier sal ons hom moet dophou. Ek ruik 16 rotte!

Bridgette is so eensaam soos ’n pikkewyn wie se lewensmaat afgesterf het. Dit lyk nou skoons asof sy vir Chris kans sien! Sy peuter ook alewig met die lang mans met hulle 501 Levi’s.

Chris kan haar maar vat. Shame, sy sit en pik elke aand alleen aan Rosie se kossies soos ’n honger hoender op ’n mielieplaas! Kom ons dra die ou girl op en bid tog asseblief vir haar ’n man los!

Die oom van Quinton is so skelm soos ’n jakkals! Ek sê vir julle – dis hy wat sy broer en sy skoonsuster uitgebrand het oor ’n Lotto-kaartjie sodat hy in ’n luukse 4x4 kan ry en uit die restaurante uit kan eet! Hoor wat ek vir julle sê!

Nou laat hy die arme kind voel asof dit sy skuld is! Slang wat hy is! Die arme kind dink dis hy wat sy ouers onder die sandkombers laat bêre het. Nee, man, mens doen nie dit nie, jou vyand!

Hierdie man is so gevaarlik soos daai Chucky-pop. Ek sidder om te dink wat volgende gaan gebeur; alles omtrent my bewe!

Laat ek liewer gaan... Koebaai! Ons skinder volgende week weer lekker, hoor jy?!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters