Verlede maand
Bridgette se foto hoort mos eintlik op 'n blikkie Doom
denise newman, bridgette october, suidooster
Denise Newman vertolk die rol van Bridgette October in Suidooster.  ~ Verskaf

HIERDIE R10 lucky packets wat jy sommer in Nazeem se winkel kan koop, bevat ook ’n ring.

Wat sal jy jou loop en moeg soek aan ’n ring wat jou pofadder-antie en haar green mamba in die spens wegsteek?!

Die dag toe maniere en ordentlikheid uitgedeel is, toe staan Brid­gette reg agter in die lyn. Hoe kan een mens soveel onmin saai?

Sy kan mos lekker weer vir haar ’n man loop vat met wie sy so kan rondmors eerder as om voor te gee dat sy die arme Zoe-kind lief het.

Ken julle daai spanne wat as kind net peanut butter en jam geëet het? En toe sy die nulle in Ian se rekening sien, toe verander sy sommer van vel!

Kyk wat het met Michael Jackson gebeur – een soort gebore en ’n ander soort gesterf. Hulle kom so uit as hulle die Mandelas op daai papiertjie sien. Geld sal jou die Two Oceans Maraton laat hardloop al is jy ’n asmalyer.

En wat presies doen die vrou in daai geblomde kantoor van haar as sy vreeslik tyd het om ander mense se lewens om te krap?

Om te sit en mooi lyk en stront aan te vang met nat hare is iets waarvan ons Maker nie hou nie.

Ek weet ons almal smag nou en dan na ’n vrytjie of so, maar om enige Jan Rap en sy maat te nader, beklemtoon jou waansin.

Justin gaan nou op verskrik­like dates met hierdie meisie wat lyk asof sy haar hare met tamatie paste condition. Rooier hare het ek laas op my sub A-juffrou se kop gesien.

Ek wil al toelaat dat iemand vir my so ’n streep trek en dan moet ek haar jammer kry? Soos wat lyk ek? Vir lawwe mense in hierdie kuberruim is daar nie plek nie. Gits, hier is skaars plek vir my!

Hoes almal by Ryan se skool? Die klonkie is so rou soos ’n stuk vleis in uncle Majiet se slaghuis. En verder stop Nazeem vir hom vol van die gesteelde hoesstroop wat ál wat ’n skool-laitie is se bolle laat jaag! So ’n mooi gesiggie het hierdie klonkie, maar die gees van ’n matroos heers binne-in hom.

Ek lê en kyk saans hierdie sepie van wil wegkruip van die ongodde­like dade wat daar gepleeg word. Stuur vir my die nommer van ’n goedkoop sielkundige, want ek wil gaan praat!

Die kopbeen het daai morning gesê: “Dis deur my bek dat ek vandag hier lê.”

Julle, as Ryan ses voet moet lê, moet niemand wonder nie! Ek waarsku julle! Hier is mense wat dans op die musiek van die nong wat tussen die vure hier onder sit.

Nazeem is een van daardie mense, maar ek wil niks van hom praat nie. My mond brand!

Terug na Bridgette toe. Daar is mos gewoonlik ’n foto’tjie van ’n muskiet, ’n kokkerot en ’n vlieg op die Doom-blik se voorkant.

Hulle moet haar gesig asseblief daarop print. Haar foto hoort nie op haar ID, haar lisensie en nog minder op haar paspoort nie. Dit hoort op die Doom-blik! Pssst!

Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters