3 maande gelede
Bridgette is so bitter soos oom Attie se aalwyn
denise newman, bridgette october, suidooster
Denise Newman vertolk die rol van Bridgette October in Suidooster.  ~ Verskaf

NAZEEM is deel van die Jacobs-familie! Mens moet altyd die Vader vertrou vir die waarheid! Wie is Hy wat op die water loop?

Hierdie Stacy-meisie wat lyk asof sy nou enige dag Miss Universe gaan wen, is nogal so slinks soos ’n pofadder op soek na ’n rot!

Nazeem weet ook net hoe om met die mense se koppe te tokkel sodat hy ’n kroon bo-op daai ponytail kan plaas!

Dit kom nou daarvan as ’n mens oor die onderdeur loer – kinders word gebore en later in die lewe besluit hulle dat ponytails die lewe ’n beter plek maak, maar hulle lieg, dit doen nie! Dit laat ’n mens liewer lyk soos ’n swanger perd wat vies is dat sy nie kan spring nie!

Dis ’n pity daar word nie pryse uitgegee vir mense wat die beste kan lieg nie, anders het Bridgette met ál die trophies weggeloop! Hierdie vrou is vir jou so bitter soos oom Attie se aalwyn-en-dassie-pis!

Waar het Mrs. J verkeerd gegaan met dié stokstywe, onopgevoede skepsel? Sy het ernstige gebed nodig, want die bose geeste dans reeds in kringe rondom haar bos!

Justin se kaalkop-pa kom maak net stront warm! Hierdie klong was dolgelukkig om pizzas en milk­shakes vir ledige mense aan te dra, maar nou moet hy skielik ’n ding in ’n suit word!

Hoekom los mense nie mekaar uit nie? Dis omdat mense nie hulle distance van mekaar kan hou nie dat die wêreld in hierdie gemors sit wat ons tans deurmaak! Luister na Michael en “heal the world”!

Nie net treiter hierdie man sy eie kroos nie, hy slaan nou sy ou blonde nooi óók nog! Kan iemand dit oorvertel? Sy is só oor ’n sent dat sy maar haar bloukolletjies wil wegsteek soos ’n skelm wat sy dwelms in sy agterent bêre. Maak los, niggie. Jy is besig om vir jou ’n sandkombers te soek!

Hoekom is Siya só besorgd oor hierdie dame? Waar brand dit?

Waar is Danni? Hoekom sien sy niks nie? Sy moet ook alewig aan die agterspeen suig asof sy dit verdien, maar nou ja, elke pot het mos ’n deksel, of hoe? Ek is seker maar ’n 1970-pan, want waar is my donnerse deksel?

Die vrou van die kerk het gesê ek moet elke oggend sewe keer neerskryf hoekom ek dankbaar is vir die lewe. Die laaste keer dat ek ’n sin ’n miljoen keer herhaal het, was toe ek in graad 9 nie my huiswerk gedoen het nie!

Wie is hierdie vrou en wat gee haar die ammunisie? My hardcover-boek is nou vol geskryf en ek kan nie ’n nuwe een koop nie, want volgens Shoprite hier om die draai is dit ’n “non-essential”!

Ek voel Kaashifa sal moet neerskryf dat sy nou uiteindelik ’n moontlikheid van ’n man het wat sy milkshake met Bennie deel!

Kaashie, kom ek gee vir jou ’n brokkie raad – bak en brou, vrou. Dis blykbaar hoe ’n mens ’n man hou. Die hardkoppige letsels hou van kou, so doen soos ek sê as jy eendag wil trou!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters