7 maande gelede
Bianca en Carmen vergeet nou van hulle verlede
desire gardner, carmen, suidooster
Carmen word vertolk deur Desire Gardner.  ~ Suidooster

My HELE week was besmet met skok! 

In my lewe het ek nog nooit so baie geskrik nie!

Woensdag, toe hardloop ’n rot amper oor my voete en gister, toe bekruip my broer my.

So, vir twee dae agter mekaar het ek byna by die dood omgedraai. So, ek kan nou vir niks meer skrik nie!

Sien julle, as jy ’n aartappel uit die pot uit steel wat nog brandwarm is en jy speel met hom so rond in jou mond totdat jy hom kan sluk, nou, so het Danni hierdie week met Siya se aartappel gemaak!

Die klong het dit glad nie sien kom nie; hy’s van dokter tot groente gedemote!

Ek kan my nie indink hoe die agterbakse skepsel nou moet voel nie! 

Bianca is nou so aangebrand oor die verneukery, maar sy vergeet geriefshalwe dat Stella nie as gevolg van windbestuiwing bestaan nie! 

Sy’s die ewebeeld van slinks, maar almal kry haar nou so jammer. Vir wat?

Net ’n pap wiel draai nie! Sy sal maar nou haar bak gebakte pere moet sit en verslind, want sy wil so lewe.

Daar is nie ’n manier dat ’n mens so verkeerd kan lewe nie – nie ’n mens nie.

En ’n geel pilletjie gaan jou ook nêrens in die lewe bring nie, val op jou knieë en slaan jou oë op na die berge! 

Hier druk Gavin vir Tyron amper teen daai dansstudio se muur vas! Dit sal hom oorkom, want vir wat laat hy die man so vreeslik sy arms masseer?

In sommige Asiatiese lande as hulle jou ’n massage gee, wil hulle later saam met jou lê.

Die mense is vreeslik en Gavin lyk reeds asof hy elke vakansie Thailand toe hol! Amper is dié twee Man United!

Moenie so alles wil doen nie, dit kom ons nie toe nie.

Waar het julle skool gegaan? Gaan vra tog net julle geld terug, asseblief! 

Dié dat Carmen haar mond so kan uitspoel oor Danni, is my ever end!

Vergeet sy dat sy Rhafiek by Nuraan afgevry het?

Nuraan het ook mos gevoelens gehad, maar nee, sy soek die man met rooi oë, al sit en eet hulle twee nou rys en brood vir supper!

Sy moet haar plek ken! Niemand, insluitend die Here, hou van voorbarige mense nie.

Iemand, stuur tog net vir hierdie vrou ’n WhatsApp sodat sy die boodskap kan kry! Vir Zoë haal ek my hoed af.

Nee, kyk, daai tierwyfie wil jy nie mee mors nie!

Sy eet jou op en spoeg jou uit vir brekfis! Ek sal maar lig loop vir haar voor ek na my ma verlang!

G’n wonder ’n mens kan al die hare op Wade se tande vleg nie! 

Iets brand vir my by Kate! Hoekom kan Michelle nie haar pa bel nie? Hoekom daag die ou vrou so skielik daar op? Ek ruik lont!

Die laaste persoon wat so skielik in my lewe opgedaag het, plant nou nog ertjies.

Ons sal die antie moet dophou, iets omtrent my bewe …Hierdie mense se drama gee my plooie, ek kan dit nie meer hou nie!

Stuur vir my ’n naam van ’n inrigting, ek wil so tien dae net gaan stil lê! Koebaai, vir eers. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters