13 dae gelede
Beatrice troos haarself met aunty Dotty se ‘Left At The Altar’
STERK VROU: Jolene Martin vertolk die rol van die dinamiese Beatrice Abrahams in Arendsvlei.  ~ 

IN DIE huis van pyn en ellende het baie dinge die week gebeur. Almal het gedink Wendy “Vuil Gevriet” Newman sal vir Beatrice en Hamilton uitmekaar dryf, maar toe hoef sy net agteroor te sit.

Beatrice sit by die troue met ’n hele bottel en Wendy vernoem ’n cocktail in haar ere die “Left At The Altar”.

Samantha lees die wolf in skaapsklere gelukkig die leviete voor en haar woorde het skaars geval of aunty Gerty trap hom toe ook uit.

Die man het geen skaamte nie. Hy sluip soos ’n dief in die nag in die huis rond!

Hamilton het nie net vir Beaty gelos nie, hy is ook terug na sy eksvrou en Beatrice staan daar so kalm soos ’n psalm. Die man moet sy guardian angel bedank hy is nie daar uit met skraapmerke nie.

Pleks van die pen op die desk gryp, gaan skrop Beatrice die stoof asof iets aangebrand het en nooit skoongemaak is nie.

Gelukkig kom die Vlei se first lady, Miss Janice, om Queen B beter te laat voel. Daar is niks wat die trick doen soos ’n pedi en mani met bubbly nie.

Beatrice het so goed gevoel, daar was ’n hele feesmaal die morning after. Selfs aunty Gerty het gewonder of die onthaal nou na die huis geskuif het.

Met Beatrice wat nou sonder man of kind sit, kan sy haar oor Daniel en Laetitia ontferm. Nes sy haar oor die rokers ontferm het toe sy aunty Gerty remind het daar is erger dinge in die lewe as om te rook.

Hoesie drink die hele bottel hoesstroop en lek dit uit ook. Nou lyk dit of die man op sy laaste is.

Thys was meer upset dat hy weens Hamilton nie gaan trou nie as wat hy kwaad is oor die man sy suster gedrop het.

Die skoolmeneer moet oppas. Hy gaan die rede wees dat sy huwelik dalk nie lank hou nie. Hy’t vir Godfrey “Suurknol” Martin met die vaal pak loop uitgrawe.

Daar staan die bruid toe sonder ’n smile op haar gesig en dit oor haar man haar pa na haar troue genooi het. Thysie, die lewe het nie ’n reset-knoppie nie!

Die held van die week is Steve. Die legend, soos Bompie hom noem, het Dezi Galant se laitie sommer gou-gou uitgesort en Mortlock vat’ie k*k’ie, dan het hy nog ’n reputasie van goed begrawe ook.

Die man dwing wragtag vir Gavin Galant om in sy eie boot te klim en nou weet ons nie of die kar by ’n krans af is en of Bompie gesqueeze is in ’n container nie. Monique en Yvette is net happy die saak is uitgesort.

Debra wil Uncle Steve haar re­search subject gebruik, maar dit lyk meer of sy ogies maak vir die man. ’n Mens kan nie help om te wonder of hierdie daddy interest nou is oor haar laaste verhouding skeefgeloop het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters