2 maande gelede
Xander betrap toe uiteindelik vir Vanessa en Justin
Bruin mans met ambisie  ~ 

AMOREY en Willem het erge huweliksprobleme.

Willem try die drama nog vermy en omseil, maar Ammie sal dit nooit toelaat nie. As daar een ding is wat Amorey likes, dan is dit aandag. Sy laat haar nie sommer ignoreer nie.

Ek moet erken dat ek in alle eerlikheid nie seker is presies hoekom Ammie so befoeterd is nie, maar ek vermoed dis tog net weer oor k*k. Sommige mense verkies eenvoudig mislikheid as ’n lewenstyl en Ammie is sonder enige twyfel een van hulle.

Willem loop soek soos gewoonlik verlossing onder in ’n bottel, maar die wyn drink hom later letterlik onder ’n tafel in. Die eenvoudige bliksem drink homself windskeel en moer die vloer so hard met sy voorkop dat hy maklik eers Maandag uit sy tiep gaan opstaan.

Vrydag betrap Xander die hele sletterige waarheid. Justin dink nog hy gaan Vanessa se slymkonyn streel toe Xander skielik met ’n kleinerige fringe in die voorkamer van die penthouse opdaag.

Daar staan sy halfbroer se halfbroer met sy vrou se boude in sy oneerlike hande. Dit was ’n skrikwekkende oomblik in hulle ál drie se lewens.

Ek vermoed ook dié oomblik gaan enorme druk op Xander se reeds kwesbare selfbeeld plaas.

Ondanks ál sy sukses en sy titel as beste lawyer in Johannesburg het Xander ’n lelike knock weg met dié voorval. Natuurlik weet hy van sy vrou se drange, aangesien prinses Karmen nie soos Jesus aan ’n maagd gebore is nie... Om jou vrou egter in die arms van ’n gewoontemisdadiger, oud-gangster en boorling van Esselenpark te betrap, kan maak dat ’n ou sy hele bestaansrede heroorweeg.

Dit was ’n gespanne oomblik vol emosie en haatgevoelens, maar ek kon Xander nie ernstig opneem met daai sagte fluister-kuifie teen sy voorkop nie.

Dan wil ek praat oor respek, want iemand moet vir Vanessa vertel dis uiters swak maniere om jou outjie voor jou man te soengroet nadat hy julle betrap het.

Dis ’n soort aspris daai wat maak dat mense van geloof verwissel.

Volgende week dié tyd doop hulle maklik vir Xander as Ig­shaan of Ebrahim Meintjies en dan gaan dit ’n ander storie wees.

Vanessa lyk vreeslik tevrede met haarself ook. Haar padda is wakker gevryf en sy is propvol selfvertroue, wat haar glad nie toekom nie.

Sy voel toe natuurlik sy kry Xander terug oor hy haar verneuk het met skoonsus Bonita en die buite-egtelike baba Daniel met die k*k beenmurg verwek het.

Min besef sy dat sy haarself net verder mismaak en nog maklik haar eie lewe in gevaar stel, want sover ek onthou, is Justin se eks Amanda vir moord in die tronk.

Vanessa sal haar battles beter moet kies, want almal weet sy kan nie baklei nie.

Haar enigste vorm van verdediging is op die einde van die dag Karmen se groot skoene, maar sy sal nog so staan en mik met ’n skoen, dan klap Amanda haar dat daai weave spat. Hierdie is sonder enige twyfel nie Vanessa se blinkste oomblik nie.

Ons skinner maar weer volgende week as die Laan se mense hopelik ’n bietjie bedaar het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters