29 dae gelede
Vanessa maak stem dik, want die sakewêreld kort platters
Ingrid Paulus is Vanessa in 7de Laan.  ~ foto verskaf

WOENSDAG verbeel Vanessa haar dat sy vreeslik professioneel is.

Sy probeer die spanning in die Bruynwaves-kantoor verlig deur soos ’n volwassene op te tree vir een keer in haar vreemde lewe.

Sy roep vir vrede en orde in hulle hoogs korporatiewe werksomgewing nadat Aggie en Diedie haar nie daai oggend wou groet nie.

Gits, die werknemers moet nou maak asof hulle van jou hou en deurdruk met die hoogs belangrike taak van kaas-en-polonie-platters bestel vir k*k funksies.

Hoe sal Johannesburg se hoëdruk-werksfunksiebedryf dié finansiële jaar oorleef sonder ’n Bruynwaves-modeparade of nóg ’n launch van daai selfde club wat hulle nou al 16 keer die afgelope twee jaar gelaunch het?

Ek is bly Vanessa is so vinnig om die groter prentjie raak te sien en weer orde te herstel rondom die noodsaaklike dienslewering wat Bruynwaves met soveel passie bestuur namens korporatiewe Johannesburg waar niemand anders weet dat Pick n Pay se deli ook vienna-en-meatball-platters kan maak nie.

Aggie dink sy’s nou die ruggraat van die adrenalien-belaaide wêreld van nuusbriefredaksie, uitleg en bestuur. Dit nadat sy destyds vir ses maande tee gemaak het vir drie mense by die Hill­side Times.

Sy behoort te weet niemand druk meer nuusbriewe nie! In 2019 is ’n nuusbrief saamstel, druk en verkoop dieselfde soos poep teen die wind. Almal sal jou hoor, maar die impak is minimaal.

Almal sal net dink jou maag werk en dis beter as hulle jou liefs vermy.

Protesaksie buite die Welman mansion ruk handuit nadat ’n groep tjoepstil betogers ’n petrolbom gooi en amper vir Rickus en Mariaan uitbrand.

Ek vermoed daardie petrolbom was in ’n piepklein botteltjie Eye Gene, want ek het in my lewe nog nooit so min rook gesien by ’n betoging nie.

Dis seker net die posbus of voordeurmatjie wat vlam gevat het. Ons almal weet mos Rickus laiks oordryf.

Thomas is weer terug in Hillside soos ’n nuwe reeks van Noot Vir Noot op SABC2.

Ons almal weet dit gaan weer gebeur, maar niemand is regtig meer lus nie.

Hy en so ’n stowwerige ou vaal dametjie sit Vrydag in ’n hysbak vas en die klein flerrie is gespanne dog opgewonde, want dit lyk asof sy Thomas se kroon wil steel.

Bonita slaap saam met Justin en dit wil voorkom asof André en Marko nou outjie en outjie is.

Ek weet nie wat in die bos tussen hulle twee gebeur het nie, maar dit klink exciting!

Ek kan persoonlik nie wag vir môre se episode sodat ons meer hieroor kan uitvind nie.

Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters