4 maande gelede
Rickus hoor dat Chris eintlik wens Willem was sy seun
 ~ 

EK WIL nou nie lelik wees nie, maar dié dik cornrow battle tussen Lesedi en Amanda maak my bitter ongemaklik.

Soos julle weet, is ek ’n kerkmens, maar nogtans wil ek weet hoekom lyk Amanda se cornrows soos ’n starfish teen haar voorkop?

Dis mos genoeg dat sy in die tronk is, dat haar kosbare Jasmine oorlede is en dat haar stem dikker as myne is. Hoekom loop maak hulle nou ’n spektakel van die vrou?

Die dik, droë cornrows en Willem AKA Johnny Depp, hierna bekend as Johnny Smet, se seksuele aandag gaan die arme wit vrou oor die afgrond dryf.

Hulle maak haar ook lekker vlak deur ons te probeer maak verstaan dat sy in so ’n smetterige jong sou belangstel.

Willem lyk niks vermom nie. Willem lyk net plein morsig soos een of ander oordraagbare siekte wat deur snot versprei word.

Soos ek verstaan, is Amanda ’n tattoo artist en enige tattoo artist wat meer as R20 vir ’n tattoo charge, behoort dadelik te kan sien Johnny Smet se tattoos is opgeplak.

Amorey besoek Donderdag haar voorheen afgeskrewe ma by die tronk om Chris, haar grootmaak-pa, se dinge op die lappe te bring.

Sy’t basies vir Chris loop piemp by Mariaan oor Rickus sy van wil verander oor Chris meer van Johnny Smet maak as van sy eie vliegtuigramp van ’n seun. En ál die bohaai gaan eintlik oor tennis.

Rickus wil mos weer professioneel loop tennis speel, maar Chris is nou mooi gatvol van Rickus wat niks van sy lewe wil maak nie.

Persoonlik voel ek wit mense maak te veel van die onnodige klomp sport. Ek weet sport is belangrik, maar ek’s nie juis ’n aanhanger nie.

Vir wat moet daar so baie soorte sport wees? Rugby, sokker, krieket en netbal is mos genoeg.

Julle het te veel tyd op jul hande. Loop doen eerder liefdadigheidswerk as jy ledig is. Ek verstaan heeltemal Chris se frustrasie met hierdie luisgat-klong van hom.

Nou maak Chris ’n vreeslike ophef van Willem en praat sy bek verby toe Rickus hoor hoe hy Willem beskryf as die seun wat hy nog altyd wou hê.

Chris, jy kan nie so ’n stelling regverdig nie. En toe vertel Ma­riaan hom mos so ’n klomp stink k*k dat die see hom nie kan afwas nie.

Arme Vinnie kruip nou op die vloer rond sodat Charmaine nie kan besef daar woon ’n roofhuurder onder haar dak nie.

Hoe woon daar iemand in jou huis met sulke groot hare sonder dat jy dit agterkom?

My week se hoogtepunt was toe Vince vir Aggie indoen en haar vertel sy bly in ’n cheap flat.

Ons weet jy is kwaad vir die lewe, Vince, maar om Aggie so in die gevreet te vat oor jy nie jou voorkind se skoolfonds kan bekostig nie, is mos nie reg nie. Jy kwalifiseer ongetwyfeld vir kwytskelding.

Neem jou laptop saam na daai posh skool toe waar Christopher ingeskryf wil wees vir R100 000 ’n jaar en YouTube vir die hoof ’n paar episodes van jou lewe.

En moenie daai dag so baie hair food aansmeer nie.

Daai hoof sal jou nie kan wegwys nie. As hy of sy eers hoor van Bonita en jou broer en die los kinders en jou klomp pa-figure wat telkemale afgesterf het, sal Christopher ’n volle beurs kry.

Daar is mense wat omgee daar buite, Vince. Jy moet net vasbyt en dat Aggie so af en toe vir julle kos betaal. Sy trek in elk geval die meeste voordeel uit enige etery. Equal rights, my broer...

Wag, ons skinder volgende week weer lekker verder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters