3 maande gelede
Olivia weier om haar lot as ’n single lady te aanvaar
 ~ 

DIE stomme Karmen praat nou wel ’n bietjie laat vir ’n kind wat al size 7 spore trap, maar ’n mens kan haar nie blameer vir die stilswye nie.

As jy haar traumatiese ontvoering in ag neem, haar ouers se egskeiding en haar pa wat vir haar ’n boetie in sonde gewek het by uncle Vince se gangster-vrou met die GHD, kan jy seker verstaan dat sy eerder haar mond gehou het.

Ek stem eintlik met haar gedrag saam, want my ma het my geleer om my bek te hou as ek niks goed kan sê van ander mense nie.

Karmen vertel so lekker vir pappa Xander se eksmeisie Lesedi haar pa weet niks van fashion af nie en ek stem volkome saam.

Dié kind praat net die heilige waarheid. Ons verwys nou hier na Xander wat man-alleen die nat curly uit die laat 80’s probeer herleef.

Dis dood vir ’n rede, dingetjie. Niemand verdien daardie soort swaarkry nie. As ’n muggie daarin vlieg en verstrengel raak in jou goedkoop gel wat lyk of jy dit op ’n oop bakkie teen die Stellenbosch Arterial koop, sal daardie muggie nie ’n vol lewe lei nie.

Dis basies dieremishandeling en dit sodat jy soos Lionel Richie se nefie van Wellington kan lyk.

Ek sou ook nie toelaat dat hy my aantrek nie. Karmen het ’n baie goeie punt beet, want hoe laat jy so iemand besluit hoe jy moet lyk?

Dis totale waansin. Karmen kan eintlik die kinderhof nader.

Livvy stalk Rickus op social media. Sy kan eenvoudig nie aanvaar dat die man haar gelos het nie.

Jy hoef regtig nie so verbaas te lyk nie, dingetjie. Dis dalk nou vir jou onduidelik, maar weet dat dit die beste vir ons almal is.

Jy kan nie ’n boyfriend en ’n gelukkige verhouding nou al kry nie. Wat sal jy anyway met iets doen wat jy nie verdien nie?

Jy’t nog net twee gesigsuitdrukkings met ons gedeel vandat jy opgedaag het uit die bloute soos Lucky Luke se perd. Jy lyk of jy geskrik het vir jou eie poep.

Die soort vreugde waarna jy hunker, is jou nog nie in dié stadium beskore nie.

Willem en Rickus is besig met ’n Fightclub vir narre. Wie het nou al ooit dié klas k*k op hulle TV verwag? Dis Buffel en Ratel en Kobra en alle aardse klomp laerskool-storielyne wat eerder op ’n verhoog in ’n gemeenskapsaal hoort as op my TV.

Gisteroggend bel ’n vrou van die SABC my hoeka om te hoor wanneer ek my TV-lisensie gaan betaal by my naaste Pick n Pay of Pep-klerewinkel. Toe vra ek haar amper of sy hierdie week 7de Laan gekyk het, want as sy minder ordentlike mense dreig met oorhandiging omdat hulle ’n paar maande laat is om R350 te mors op ’n TV-lisensie wat eintlik net ’n letter of apology van die SABC af moet wees, dan sal haar verhouding met haar Skepper meer vrugte afwerp sodat sy nie naweke hoef te werk nie.

Ek vermoed Jacob en Charmaine gaan begin vry, want hier is tans te min verhoudings wat die kleurgrens oorskry.

Mariaan, Chris en Hilda probeer vir Alexa leer dans, maar hulle lyk soos daai dronk mense wat Saterdagoggende voor Shoprite op gospelmusiek jazz.

Draai om en hardloop weg, Alexa. Loop sien ’n berader of gaan op jou knieë, want jy’t die soort probleme wat slegs professionele hulp of gebed kan beter maak.

Ons skinder weer volgende week, julle! Druk asseblief die Share-knoppie. Almal verdien om ’n bietjie te lag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters