8 maande gelede
Nou sit Matrone met die grys vlermuis met die vuil bek
 ~ 

WOENSDAG leer Marko dat Thomas nie sy kind is nie.

Vanessa vind uit dat ELP inderdaad haar volgende event se blomme ook gaan doen en Aggie kry die instruksie om die res van Bonnie Bontas se geld te betaal.

Jacob het by Charmaine ingetrek. Dis seker ook nie lank voordat hy sy kar in haar garage park nie.

Ek weet mos hoe werk die grootmensgoeters. Ons sien toe amper Willem se grootmensgoeters, maar net omdat Pietie geleer het hoe om Samsung ringtones te sing.

Lesedi probeer nou coral, pleks van haar gewone jintoe-rooi uitrustings. Dis steeds nie juis ’n kleur wat mooi by haar gelaat pas nie. Ek stel neutral tones voor. Dalk kakie, beige of grys. Ek weet nie. Ek weet net coral is verkeerd.

Thomas sien toe ’n sielkundige. Ek voel Esti kon die shrink waarsku oor die kind se omstandighede met dié dat sy ma ’n stripper is.

Lyk my Kosie het nou ’n hoofrol. Hy’s nou by skuld indien vir Allegria. Sy oog spring soos hy kwaad raak vir Vince wat water op skuld koop en dan nie betaal nie. Ek het Kosie nog nooit so passievol gesien nie.

Donderdag vind ons uit Fikani is ’n dokter. Ja, ’n regte dokter met pampiere en alles. Hy red Diedie se bedwelmde lewe, maar nie voordat Alexa probeer oorvat nie. Alexa was meer bekommerd oor die aandag as die pasiënt. Dit was nog altyd haar probleem.

Sy moet alewig alles wen en toe sy hoor Fikani is ook ’n dokter, het sy dadelik probeer uitvind hoekom hy nie praktiseer nie.

Nou blyk dit dr. Fikani is geskors en Alexa gaan dit haar werk maak om uit te vind hoekom.

Hoe durf hy ’n dokter wees soos Alexa. Die man het ’n blerrie nerve. Bygesê, Alexa blyk ook deesdae op iets te wees. G’n mens is so opgewerk oor niks nie.

Dan is daar die nuwe klong, Jacques. Hy is besig met iets onheiligs. Thomas is daarby ingesleep. Esti glo alles wat enigeen haar vertel en ek vermoed die storie by die skool het iets te make met seks, dwelms of afpersing.

Of anders is Thomas en Jacques outjie en outjie. Met alles wat deesdae by die skole gebeur, sal dit my ook nie eens verbaas nie. Die nuwe curriculum is iets vreesliks.

Amorey het dit toe reggekry om Pietie, die grys papegaai, aan Matrone af te smeer nadat Pietie omtrent spraaksaam geraak en alles begin na-aap het.

Willem het mak amper van sy kop af geraak, want soos julle weet, is hy mos maar emosioneel gepla met die maan vandat sy stiefma hom gelos het om in Mosselbaai – van alle plekke – te loop kind groot maak.

Willem het die ander dag amper sy handdoek laat val, en dit sou nou nie mooi gewees het nie. Laat Amorey maar alleen haar kruis dra.

Arme Pietie moet nou met Matrone en die boekwinkel se mense opgeskeep sit en ek hoop hy maak hul lewe hel.

Sy wat Amorey is, lieg en bedrieg vir arme Matrone oor hoe gaaf die grys vlermuis met die vuil bek is, maar ek kan nie wag vir volgende week sodat ’n mens weer kan sien hoe almal panic oor niks nie.

Ons skinder weer volgende week lekker saam, mense!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters