3 maande gelede
Nathan se blokpatroon-suit maak ’n mens lus vir inkleur
vaughan lucas, 7de laan
Dr. Nathan word deur Vaughan Lucas in 7de laan vertolk.  ~ Verskaf

HEART, Health en Healing se kompetisie was ’n klomp k*k.

Ek wou net heel eerste dit van my bors af kry.

Ben10 is glo morsdood, maar ek seg weer vir julle – moenie julle swart goed stryk nie. Hou nog ’n bietjie uit. Daar is altyd ’n tweede begrafnis. Ek laat my nie drie keer vir ’n gat vat nie.

Watse krokodil vreet anyway nie al sy kos op nie? Ek het nog nooit van Herbex of Banting vir krokodille gehoor nie.

As ’n krok jou beetkry, bly daar niks oor nie en tot ek ’n lyk sien, glo ek niks voor die tweede begrafnisdiens nie. Punt op daai storie.

Die LOL Fight Club is weer in die kollig. André se gewete is my TV se hele screen vol.

Dr. Dippenaar is sterk op pad die land uit, want hy het nou vir eers genoeg waterpille verkoop.

Hy gaan vir Diedie drop met gordelroos en erge sooibrand, sonder om eens te praat van die HIV en denkbeeldige kanker.

Dis natuurlik net as Alexa hom nie vastrek nie. Sy’s mos tussen 48 uur skofte by Hillside CDC betrokke by wetstoepassing, sowel as ’n seksuele verhouding duskant die kleurgrens.

Bloemfontein en sekere dele van Witfontein grou seker lyke op en draai fisies die dooies in hulle grafte om.

Die AWB en verskeie lede van Agri SA is bitter ongelukkig, maar Alexa en Fikani gaan nie terug staan nie. Ek gril natuurlik van lekkerkry.

Willem Spies is op vrye voet. Sy gewete pla hom meer as Nathan se suit met die groot blokkies.

Sulke groot mense moenie blokkies of lyntjies of polka dots dra nie. Ek is hoogs aandagafleibaar en ek kry sulke diep drange om met ’n boksie inkleurpenne elke blokkie ’n ander kleur te maak.

Dan kan ek op niks anders fokus nie.

Hy sit en staan ook so verskriklik doodstil met sy groot rug dat ek gewoonlik twee tot drie rye blokkies kan klaar inkleur voordat hy beweeg.

In daardie tyd kan ek nie eens hoor wat hulle praat nie. Wat ek basies wil sê, is hy speel met ’n mens se loopbaan.

Ek try net my werk doen, maar dis moeilik as die mense so met my gemoed mors. Julle moet seker try verstaan dat ’n verhouding met Bonita enigeen gespanne sal laat.

Ek het ook hierdie week niks goeds te sê van Bonita nie, so kom ons noem maar net dat haar hare darem na iets lyk.

Ek is heeltemal trots op wie ook al deesdae die hair dryer daar vashou. Hulle werk duidelik harder as dr. Alexa.

Le Petit Paris is kleiner as die mop wat hulle in Shoprite se vars vis­afdeling gebruik om een keer ’n maand ’n bietjie daar af te vee, maar ons moet nou glo die plek is posh verby. Hoe die ses klante wat elke week die drie tafels so propvol sit, almal se salarisse kan betaal, weet net die Vader en SABC 2. Maar wag, ek praat weer te veel. Ons skinder volgende week verder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters