3 maande gelede
Mariaan kort eers ’n paar klappe voor sy vrygelaat word
 ~ 

MENSE, dié week staan ek voor julle met ’n klomp vrae.

My eerste vraag handel oor Monique, die kleurling-stripper met die netjies geblowde hare. Ek kan vanuit my voorkamer vir julle vertel ’n blanke persoon het dié Monique se hare geblow.

Hoe weet ek dit? Dis nie lekker uit die root uit getrek nie. Ek kan dit van ver af sien.

Kyk, Monique se draad kort ’n ferm hand en ’n orange roller. Dié twee dinge was nie teenwoordig by Monique se laaste wash en blow nie.

Hoekom moes sy tog nou op Justin van alle mense afkom? Daar is soveel mense in die Laan, maar Monique kom op die enigste bruin ou in die Laan af sonder geld op sy naam.

In 7de Laan het bruines mos geld. Hulle besit aandele, koerante, laptops, koffiewinkels en penthouses. Almal behalwe Justin ...

En hier loop Monique haar spoor koud teen ’n Justin sonder ’n sent.

Justin het net enemies en ’n mal wit goose in die tronk. Justin kan jou g’n toekoms bied nie, Monique. Jy sal moet wegkom van hom en sommer van Esti af ook.

Esti se lewe is ’n leuen, want net die ander dag het Esti nie 20c op haar naam gehad nie, maar vandag weet ons sy betaal R100 000 ’n jaar vir ’n skoolfonds.

Ek dink my skoolfonds was so R600 ’n jaar en kyk hoe skryf ek vandag heerlik grappies in koerante. Ek is dalk nie die beste voorbeeld nie, maar my punt is: R100 000 is te veel vir ’n skoolfonds.

Anyway, mense, dit lyk asof Ma­riaan Welman wragtag uit die tronk gaan kom. Ek hoop net Amanda kry haar weer in die hande voordat sy by daardie tronk kan uitkom, want sy verdien nog ’n paar warm klappe sommer vir die k*k wat sy in die toekoms gaan aanvang.

Tog moet ’n mens nie ander verwens nie, want julle weet Amanda se koppie haak uit, dan vermoor sy sommer vir Mariaan en ek is bang die storie raak boring as Mariaan iets oorkom.

Lesedi en Jacob Moloi is bitter ontevrede oor die Welmans se oorwinning, maar ek is seker Lesedi sal aan iets kan dink om die wit mense weer moerig te maak.

Gepraat van wit en swart, wat dink julle van Nozi se briljante plan om oornag slim te word sodat sy Fikani kan chise? Ek voel sy is vreeslik ambitious, maar ek twyfel of ’n biblioteekkaartjie die trick gaan doen.

Dié keer sal haar idee van slim wees nie heeltemal die paal haal nie. Sy’s wragtag so eenvoudig soos seesand, hierdie dametjie.

Dan is daar Diederik en die ryk ou goosey. Waar het jy nou al gehoor iemand het ’n klomp swart bodyguards en hou net van gesels?

Nee wat, daai tannie is met wilde seks deurmekaar. Dit kan ek julle guarantee. Die storie klop nie...

Een van die dae gaan Diederik ’n vreemde soort seksslaaf vir hierdie ouma-antie met die mynwerker-fetish wees. Hardloop, Diedie!

Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters