3 maande gelede
Mal mense maak alles sommer net meer interessant
 ~ 

JULLE kan van Amanda en Vivian sê wat julle wil, maar ek kies hulle twee enige dag bo Charmaine en Alexa.

Ek is mos mal oor mal mense. Mal mense is die heel beste en Bonita is duidelik sterk op pad malhuis toe met die skimdood van Daniel. Vivian is ’n gemors en ’n vullis van ’n mens, maar sy vang haar k*k met soveel passie en inspanning aan dat ’n mens haar eenvoudig móét geniet.

Mariaan se ontsnapping verloop nie lekker na plan nie. Sy is nou al na Liefie se kas gestuur ook en Amanda se stem is dikker as Zuma se vel. Bonita se ware draad is weer live en direct.

Dit wys ’n mens net weer hoe belangrik inner beauty regtig is. Drie dae sonder jou GHD en dit lyk asof sy raak gelewe en raak gedrink is.

Mariaan se roesbruin mussie gaan my teen volgende week kniehalter. Hoe kan jy opsetlik jouself so mismaak? Dis net weer ’n bewys daarvan dat ’n mens nie styl en klas kan koop nie. Sy lyk nou weer erg Parowvallei.

Die gewig wat Daniel verloor, word deur Xander se pienk roller-perm opgesuig. Hy lyk dan amper soos daai mense van Boney M, wat “Feliz Navidad” sing.

Emma se kuif lyk asof dit langer in die tronk was as Madiba. Die ding het basies ’n persoonlikheid van sy eie. Seunie die hond en Rick se gees woon albei onder daai ding.

Natalie jaag nou Chris se losprys van R250 000 vir Mariaan se ontsnapping. Ek twyfel of sy gaan regkom, maar dis altyd goed om te hoop. Dié duiwelse vrou is dalk ’n misoes reg uit die hel, maar dié tronklewe is nie vir haar nie.

Liefie is toe heeltyd agter Emma, Bonus Fringe se padda, aan! Ek het amper my wyn gemors toe Liefie Emma probeer vasdruk. Lesbiese paddas vind ek effe grillerig, want niemand kan my lekker verduidelik hoe hulle maak nie.

Bonita is só befoeterd, sy wil Amanda, tweede bass se ongebore kind, met ’n stuk gebreekte bord uit haar baar sny. Dit was seker ’n bord uit Continental se factory shop in Blackheath. Daai mense kan nou vir jou uitstekende rejects maak.

Liefie dra Mariaan toe met Natalie en Emma se hulp in ’n matras uit gang toe, maar die klein, ryk vroutjie weeg toe heelwat meer as wat ’n mens sou dink. Dis seker die twee liter base en concealer wat haar kop so swaar maak.

Vrydag steek Mamma Bonita die hele tronk aan die brand en ek twyfel sterk of hulle brandblussers in tronke het. Die gevangenes sal mekaar seker dood moer met die goed. Dalk brand Bonnie almal se vrees­like sondes weg, wat veroorsaak het dat amper die hele Laan se vroumense nou in hierdie nuwe reeks, wat ek Sewe­ster gedoop het, rolle kon kry.

Verder lê en slaap Daniel Dik Wangetjies ewe rustig terwyl sy mamma vuur maak vir ’n moerse braai.

Ek moet nogal erken ek geniet die tronkdrama, maar dié storielyn gaan maak dat mense meer misdaad pleeg, want die lewe in die tronk lyk volgens 7de Laan glad nie so bad nie.

Ons skinner weer volgende week, nè! Lekker week vir julle!

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters