9 maande gelede
Lesedi se verlede met haar blesser haal haar in
Hennie Jacobs is Diederik in 7de Laan. Foto: www.artistwarehouse.co.za  ~ 

SOOS julle weet, praat ek nie eintlik sleg van ander nie, maar ek moet julle net vertel van Olivia en Diederik.

Ek is nie seker wat die probleem is nie, maar Diedie lyk ewe skielik bitter ongemaklik met sy vrou. Wat is dit tog nou weer? Hoekom mag ons nie ook vrede vind nie? Ons het net die ander dag Jesus se birthday gevier en ’n nuwe jaar welkom geheet, maar hier sit ons nou weer met ’n klomp problems.

As 2019 so begin, dan kry ek ons verskriklik jammer. Ons wil hê hulle moet gelukkig wees en dink ons gaan hulle verlang as hulle gaan. Ons gee ook nie om waarheen hulle foeter nie, solank hulle net gaan. Dis nie jy nie, Diederik. Ons hou van jou, maar jou vrou werk op ’n mens se laaste nerve.

Dis haar gesig, man. Dit lyk alewig of sy iets vergeet het. Ek wil haar amper vra of ek kan help met iets, want sy lyk permanent verward. Ons kan eerlik nie meer nie, Diedie. Ons is bereid om jou te verloor sodat sy elders kan gaan.

Ons is nie bereid om nog ’n jaar met haar opgeskeep te sit nie. Jy het mos gesê “I do”, so dis nou jou saak. Jy wou mos getroud wees. Moet ons asseblief nie verwyt nie.

Ons is baie lief vir jou, maar ons het nie “I do” gesê nie. Los ons uit jul huwelik, asseblief.

Julle kan lekker emigreer of ’n skool vir kinders soos Olivia stig iewers in ’n landelike deel van Upington buite die bereik van die kameras. Ons los die keuse in jou betroubare hande.

Dan moet ons praat oor Lesedi wat met die wit oom getroud is. Was dit nou nie ’n ellendige knou vir Xander nie?

Xander se whisperer baby fringe is reeds so ’n vreeslike verwarrende spektakel, maar nou nog die ongehoorsame baard en die metro­sexual uitrustings. Dis eenvoudig te veel vir ’n weeksaand.

’n Mens kom moeg van die werk af, dan moet jy in hierdie TE VEEL van Xander vaskyk. Dit voel permanent of ek gestraf word, al wil ek eintlik net ontspan.

Dis nou wit, bruin en swart in een liefdesdriehoek wat doodeenvoudig nie lekker werk nie.

Aan die een kant is die wit oom al lank verby sy Best Before-datum. As ’n mens mooi daaroor nadink, was hul verhouding op universiteit niks meer as ’n Blesser-situasie nie.

Dis teen die Bybel en om te dink dié mense werk in die hof. ’n Mens verwag mos darem meer van die wetstelsel as dit! Einde van die dag het niemand Lesedi in dié ding geforseer nie, so hoekom presies word sy nie aangespreek nie?

Sy was al klein-klein ’n effense jintoe, as ek die besigheid reg kyk.

Die wedding was boring. Ben gaan terug skool toe. Connie is so siek soos tien mal mense en die arme Emile-klong is nou ’n suksesvolle drag queen wat met Willem wil oulik maak.

Willem sal eerlik met enige iets of enige iemand slaap, so oor hom is ek min bekommerd. As jy met jou anderskleurige skoonma kan slaap, dan kan jy enige iets doen. Hy sal orrait wees, maar Emile en André die Arend? Hulle gaan sukkel met die besigheid en ek bekommer my.

Ek weet daar’s nog stories, maar my plek is beperk. Ons skinder maar weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters