5 maande gelede
Hopelik kry arme Vinnie ’n man daar oor’ie waters
 ~ 

DONDERDAG vind ons uit Jacques het daai man wat nou in die Hillside-kliniek is, van die balkon afgestoot.

Ons leer ook dis sy pa. Wat het die oom gedoen om sy seun so stoterig te maak?

Vanessa lieg vreeslik vir Aggie. Sy begin vrae vra oor al die meetings wat Vanessa en Justin so alleen sonder haar moet bywoon.

Sy’s immers Johannesburg se top plastic jewellery designer en hulle nooi haar skaars saam. Ek voel hulle kan beter lieg, maar Aggie is ook so bitter eenvoudig.

Lesedi koop gelukkig Donderdag ’n blou rok pleks van nog ’n rooie, so daar is nog hoop vir dié vrou.

Haar haartjies groei ook vreeslik vinnig en sy lyk elke dag meer en meer soos Kopano.

Terwyl ons oor Lesedi skinner, dink julle nie ook sy het dalk ’n geheime los kindjie saam met Xander verwek toe hulle nog op universiteit saam ougat gemaak het nie? Daai kind sit maklik in die Oos-Kaap by een van Lesedi se anties.

Vinnie is sterk op pad Amerika toe. Een van Connie se tjommies het vir hom werk gereël.

Hopelik kom hy weer eendag terug en ek hoop hy kry ’n man daar, want soos julle weet, gaan dinge nie goed vir hom in Gauteng nie. Hy’s nou al hoe lank in Johannesburg en sy lewe se temaliedjie is steeds Ballade vir ’n Enkeling. Dis maar tough daar buite.

Karmen is effe deurmekaar. Koorsig en heeltyd slaperig, toe jaag Xander met die stomme kind Hill­side-kliniek toe – die mediese instansie waar enige siekte behandel kan word. Ek sou daai kind met die moerse voete net ’n asynlappie en ’n bietjie Eno ingejaag het. Sy’t op daai couch gelê soos iemand met seer enkels.

Hulle moet begin aanvaar dat sy dalk vir die res van haar lewe kaalvoet moet loop. Haar groot voete plaas geweldige druk op haar persoonlikheid. Sy’s maklik al vyf jaar oud en kan steeds net die kortste sinne praat. “Mammie” en “Boetie” is steeds die enigste name wat sy kan sê.

Ek hoop net sy kan binnekort woorde soos “Beautiful Beginnings” of “Soft & Free” sê, want niemand kam die sprakelose kind se kop nie.

Thomas piemp Jacques Vrydag waar hy skelmpies in die Heights se stoorkamer try slaap. Die polisie het hom kom kry en hy’s opgesluit vir manslag. Ek vermoed sy pa, die dominee, het sy ma, mev. Dominee, ’n bietjie pak gegee. Toe tree Jacques in en stoot vir Pappa van die balcony af.

Kosie is bitter ongeskik vandat hy water verkoop. Hy loop sommer vir Vinnie uit die pad uit toe Vinnie hom probeer groet. Glo vreeslik jaloers oor Vinnie se big break in Amerika.

Een van die dae maak en verkoop hy sy eie naaldwerk en verdien dollars, terwyl Amorey steeds sosaties maak.

Genadiglik het Willem darem so ’n bietjie geld geërf om ’n dak oor hul kop te hou.

Hilda vertel eindelik vir Amorey dat Mariaan haar dogter is en sodoende het Amorey ’n splinter­nuwe ouma. Die kind lyk egter niks excited nie. Dis seker baie om in te neem, sjym.

Wag, ons moet maar weer next week verder skinder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters