4 maande gelede
Hilda moet liewer ons land se vlag op die vlagpale los
 ~ 

WOENSDAG was vreeslik vreemd. Connie en André het mos Maandag tot Dinsdag opgebreek en Woensdag kom Connie depressed werk toe.

Al probleem is, Connie werk in ’n klerewinkel, maar sy sê vir Aggie sy sien nie kans vir mense nie.

Met trane in my ogies vra ek: Waarvoor het sy dan werk toe gekom?

Mense wat sulke dinge doen, soek net aandag. Sy werk boonop alleen in die winkel en sy’t sekerlik die plek se sleutels. So, op ’n ernstiger noot: Hoekom het jy nie by jou huis gebly nie?

Ek hoop net André bly weg van dié vrou af. Hy is reeds nie vreeslik stabiel nie, so ek twyfel sterk of hy dié soort swaarkry ook verdien.

Ek’s wel nie gaande oor André nie, maar almal verdien meer as wat Connie na die tafel toe bring.

Donderdag soek Bonita mos by Charmaine herberg vir haar en Daniel – nes Josef en Maria in die Bybel. Sy is onbewus van Vanessa en Karmen, wat ook onder Charmaine se dak nesskop.

En soos enige regdenkende ma sê Charmaine vir Bonnie nee, want wie wil tog anyway saam met jou man se houvrou onder een dak bly? Dit maak tog heeltemal sin en ek was trots op Charmaine.

Gepraat van ouers en kinders, Mariaan koop vir Hilda ’n rok wat nes ons landsvlag lyk. Soos julle weet, is ons vlag nie geskik vir naaldwerk nie. Dis net nie die soort patroon wat ’n mens probeer dra nie. ’n Vlag is bedoel vir ’n vlagpaal. Dít is toe presies hoe Hilda lyk met die ding om haar nek.

Hilda vergeet toe om Donderdag haar kombuiskraan toe te draai en loop slaap.

Sy’t net begin droom oor haar belaglike vlagrok toe die water weer aangaan en natuurlik flood haar hele flat. Vrydag skrik sy wakker en die waters loop al by haar voordeur uit.

Sy probeer kraan toe sprint soos watse atleet en val haarself stupid op die sopnat vloer.

Enige ander mens sou dink Hilda het daai ronde verloor, maar daar trek sy toe Vrydag in by die Welmans se man­sion.

My grootse begeerte was om Vrydag Madel Terblanche se gesig te sien toe Hilda met haar tassies by die voordeur opdaag.

Vrydag is daar ’n moerse paartie by T&T vir Freedom Day. Die tema is vlae en byna almal het so bespotlik soos Hilda gelyk.

Matrone het glad ’n poncho-vlag-ding aangehad. Dit was besonders lelik en ek voel ’n dag later steeds bitter seergemaak.

’n Mens mag nie ander mense se seksdrange kritiseer nie, maar hoekom is Vanessa skielik so verskriklik spuls?

Justin het nuwe lewe tussen daai vrou se boude geblaas, maar hy moet tog versigtig wees. Hy maak die soort lus in Vanessa wakker wat hy nie sommer oormôre tot ruste kan bring nie. Hulle speel dan Vang Die Padda met die braids tot drie-uur in die oggend. Hulle was albei Vrydag heeltemal bleek gestoot en dít onder Charmaine se dak.

Charmaine kan nou net sowel haar kamers per uur aan sekswerkers verhuur, want daai huis van haar is besmet met elke soort sonde.

Ons skinner weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters