26 dae gelede
Hilda het ge-upgrade van Ikebana-skepper na Madel II
Annelisa Weiland is Hilda in 7de Laan  ~ 

HILDA lyk vir my dag ná dag ’n bietjie meer soos Madel Terblanche.

Veral as sy so statig iewers in Madel se ou huis staan en advies uitdeel.

Sy vervul regtig haar rol as ryk, ou, wit tannie baie mooi.

Om te dink sy het nog anderdag soos een van haar Ikebana-skeppings aangetrek.

Dit was ’n soort Bybelse verwarring en ’n oefening in enige iets aantrek wat jy op die vloer optel. Hilda is nou ’n regte lady en dit is omtrent haar beurt.

Ek wil nou nie seksisties klink nie, maar Fikani skinder soos ’n groot vrou.

Kyk, niemand kan skinder soos ’n antie nie. So, Fikani is sonder twyfel iemand se antie. Hy werk eintlik ’n bietjie op my nerves.

Alexa soek jou nie naby haar nie, dingetjie. Almal gril as julle mekaar so lusteloos drukkies gee.

Sy sou haar bak oopmaak en jou tussen haar pramme koester as sy jou daar wou hê. Los asseblief nou daai gedagtes.

Bonita se upstyle is net té up vir ’n Woensdag. Wie in haar regte verstand dra twee weke voor Kersfees so ’n vreeslike upstyle?

Daar is nie ’n wedding of 21st in sig nie, maar Bonita se hare staan regop soos ’n NG predikant.

Dié vrou sou haar wat verbeel. Miss Universe was immers verlede week Sondag al op die televisie.

Ek twyfel of sy ’n finalis soos Tamaryn Green sou wees as sy deelgeneem het. Sy sou seker die ander deelnemers dreig met bendegeweld soos ek haar ken.

Dis vandat dr. Nathan opgedaag het dat Bonita nou Donderdag­oggende matric ball make-up dra.

Fancy make-up en hare saam met gewone klere laat jou tog net lyk asof iemand jou op die laaste minuut gedrop het.

Jy was sterk op pad Bossa toe, maar toe besluit God jy verdien dit nie.

Dis hoe sy lyk as ek na haar kyk.

Dan is daar Diederik en Olivia met die pop genaamd Max. Ja, julle, die donnerse pop het nou ’n naam en Diederik geniet hom elke dag meer met dié elektroniese werpsel uit die hel uit. Olivia dink sy is snaaks om dié goed ’n mens se lewe binne te bring.

Jy’s reeds op besonderse dun ys, dametjie. Sy’s maar net nog in die stuk oor daar ’n opening op die equal-equity register is.

Kry nou klaar met die popspeel en bel daardie lab wat nou al ses weke vir jou ’n HIV-uitslag stuur. Gebruik hulle dalk posduiwe via Europa? Want niks is so gevrek soos jy en jou results nie.

Jacob vind uit Aggie is sy oorle’ suster se dogter. Hy is dus Aggie se oom en Jacob is besonders opgemaak.

Oom Jacob sal nou seker moet opmaak vir verlore tyd en baie saam met Aggie moet uithang.

Dan sal hy nogal lyk soos ’n skatryk, ou blesser-oom met ’n voorliefde vir stewige dames met floral kaftans. Sterkte tuis.

Ons skinder maar weer volgende jaar verder, geliefdes!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters