4 maande gelede
Dr. Nathan se onderbaadjies laat die rooi ligte flikker
vaughn lucas, 7de laan
Vaughn Lucas vertolk die rol van dr. Nathan in 7de Laan.  ~ Twitter

EK WEET ons wil almal oor dr. Nathan gesels, maar ek verwerk nog die emosionele trauma.

So, kom ons praat eers oor Amorey, wat uit Europa teruggekeer het met daai hondlelike denim jacket. Julle, dis besonders lelik. Ek kan eenvoudig nie meer verskoning maak vir haar gedrag nie.

Sy gee eers voor dat sy nog omgee vir Willem, wat nou brandarm is, maar dan vra Willem haar om weer te trou, wat weird is omdat hulle nog nie geskei is nie, maar dan sê sy “nee” en storm uit.

Ek sou “ja” sê as ek sy was, want niemand anders kan haar skoonheid agter daai lelike denim jacket sien nie. Net Willem is bereid om verby jou jacket te kyk, Ammie.

Dis dalk tyd dat jy die realiteit van jou omstandighede aanvaar. Jy en Willem is bedoel vir mekaar. Dom soek dom en julle altwee is besonders stupid, so dis net reg dat julle mekaar weer vind.

Olivia, ek weet nie meer wat om van jou te sê nie. Jy wou laas ’n lawyer wees, maar ons almal weet dit vereis ’n bietjie dinkwerk. As dit by dink kom, is daar ongelukkig die issue met jou intelligensie en die Pritt van verlede week.

As Willem en Amorey in ’n dom bootjie vaar, dan is jou bootjie agter hulle s’n vasgemaak met garing. ’n Ligte windjie of ’n duif wat poep, kan jou maklik verwar. Dan los jou agterstand jou in die middel van die oseaan en ons weet ál die soutwater in die see kan nie die dom van jou afwas nie. Los die dink-besigheid. Dis vir ander mense wat nie Lottokaartjies op koffietafels los nie.

Nou kom ons by dr. Nathan. Soos julle weet, praat ek nie graag sleg van ander mense nie. Almal is mos spesiaal op hulle eie manier. Dr. Nathan is egter van dag 1 af net te nice vir my. Niemand is só nice en dra gereeld onderbaadjies nie, behalwe ooms wat met klein kindertjies lol.

Besef julle ons het nooit regtig ’n verduideliking gekry oor presies hoekom Hector in Nathan se kantoor was nie? Die hele vreemdheid met dr. Nathan en sy voorliefde vir kinders pla my geweldig.

Hy verskyn uit die bloute soos Lucky Luke se perd en is net lief vir kinders. Hy kom red almal wat aan skok en anorexia ly, maar behalwe dít is hy net mal oor kids.

Almal met Haven-skok is wonderbaarlik genees en Alexa lyk soos voor haar anorexia. Ek vermoed sy was net siek in haar linkerskouer.

Die groot issue hier is egter Karmen, wat ’n vet klap nodig het. Haar moods het net begin toe dr. Nathan so gereeld na haar begin kyk het. Hoekom Vanessa en Xander, albei geleerde mense, keer op keer die kind los by ’n wildvreemde ou wat onderbaadjies dra, weet ek nie. Ek weet net hier’s fout.

Weet enigeen waar dr. Nathan bly? Hoekom het hy net twee gesigsuitdrukkings en wie doen sy make-up? Want dié moet leer blend onder sy kaak. Ek sê vandag vir julle: Hy vat aan kindertjies. Ek is dalk verkeerd, maar die kans is skraal, nes Alexa se linkerskouer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters