5 maande gelede
Dit lyk asof Emma ’n comeback na die Laan gaan maak
 ~ 

WIE van julle soek ’n huwelik soos dié van Chris en Mariaan?

Kyk, ek weet dis verkeerd om ander mense fisies oor die kop te slaan, maar op ’n siek, verwronge manier is dit tog eintlik heel romanties om te weet jou man of vrou is bereid om moord te pleeg om jou te beskerm.

Selfs meer romanties is die idee dat Mariaan Welman dalk vir die eerste keer in haar siek lewe sal boet vir haar sondes en daar is niks wat Chris se geld daaraan kan doen nie.

Dít en beter pruike. Beter pruike wat nie soos daardie nagemaakte Barbie-poppe se stokstywe hare lyk nie. Hierdie dinge is alles vir my romanties.

Bonita en Xander het nou al 38 mense laat toets. Hulle soek beenmurg vir Daniel. Dié is deur Fikani, die dokter wat ’n paar jaar op leave was, en Alexa, die dokter wat gerus voor ’n bus kan inloop, met ’n vreeslike siekte gediagnoseer.

Die klein bliksempie sal tien teen een vir die res van sy lewe soos ’n goudvis in ’n bubble moet woon.

As Bonita my ma was, sou ek ook seker veiliger in ’n vistenk gevoel het. ’n Mens kan seker nie jou ouers kies nie, maar Daniel het darem ’n k*k deal gekry.

En wanneer gaan sy haar hare weer ’n Christelike kleur gee? Dié jintoe-rooi, effe peach affêre op haar kop is heeltemal ’n gil vir toenadering.

Ek weet nie hoe om iemand soos sy weer op die pad te bring nie. Nie eens die pad na verlossing nie. Sommer net enige pad, want tans dwaal sy in ’n veldjie rond. Die vrou se lewe het nie rigting of rede nie.

Sy’t mos laas genoem sy lewe net vir Daniel, maar nou met die vistenk-besigheid is Daniel dalk nie meer vir lank saam met ons nie. Dan steek Bonita maklik daai veldjie in haar kop aan die brand. Dan is daar k*k.

Dit lyk asof Emma op pad terug is. Sy qualify vir parool, so dis nou net ’n kwessie van tyd.

Marko sal sy storie moet ken met die stripper wat hy tans oulik maak. Emma gaan nie haar kind rondom daardie bol sonde toelaat as sy eers uitvind presies hoe talentvol Esti is nie.

Om nie eens te praat van die video clip of die hele hofsaak nie. Weet julle of Thinus se hond, Seunie, nog lewe? Daai arme hond se lewe is ook net een moerse vraagteken.

Toe loop toets en deel Xander mos Karmen se beenmurgies uit sonder om koningin Vanessa se toestemming te vra. Dis chaos, want Bonita wou kom dankie sê, maar nie Vanessa se hart of hare het plek gemaak vir Bonnie se emosies nie.

Die Welmans se last supper event was ’n moerse flop oor Alexa by die deur staan en afluister het hoe haar ma oor haar vele sondes bieg. Ek het regtig nie woorde vir Alexa nie. Sy gaan maak dat die hele ding in die hof of die begraafplaas opeindig.

Ons sal maar moet wag tot volgende week om te sien hoe Alexa weer iets oorkom as iemand poep. Ons skinner volgende week verder!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters