3 maande gelede
Die Laan ontaard in ‘Days of Our Lives’ uit die laat ‘90’s
 ~ 

EK WEET nie van julle nie, maar ek is bitter ontevrede en ek is net dít, want as ek vloek, kry ek weer baie SMS’e in Son van kerkmense en ek probeer beter lewe.

Gisteraand se episode was genoeg om te maak dat die apostel ’n draai sou moes kom maak, want ek was kwaad.

My ontevredenheid was as gevolg van die feit dat gister se episode veel eerder ’n vertaalde heruitsending van ’n episode van Days of Our Lives uit 1997 was!

Dit was pure Sami- en Marlena-streke met druggings en siek verhoudings en slette en Delilas en jintoes en kaalgatgeid en Stefano DiMera homself uit die dood soos oorle’ Neville.

Madel draai mak in haar graf om as sy dié k*k moet sien wat die Laan deesdae optower.

Ek weet ek klink nou net of ek complain, maar ek was nie seker waar om my aandag te vestig nie. Dis etenstyd en Tineke se kaalgeid vul my TV se hele 49 inches.

Ek brag nie, want my hartjie brand vir ’n 65 inch, maar ek pay te min oor julle nie die donnerse SHARE-knoppie kan druk soos ek julle elke week so mooi vra nie. Dan is my TV licence nog vol betaal ook en ek word van voor af kwaad vir die snert wat SABC 2 aan my geloof doen.

Monique se hare is weer gemoer met daai Professional 2200 watt Parlux hair dryer van R2 500 en ’n ekstra pak slae van die GHD-span, maar niks maak’ie. Teen die tweede Outsurance-advertensie is alles daarmee heen. Toe wag daai kind se lap vir haar by die huis.

Sy lyk toe soos ’n gr. 8-meisietjie met ’n goedkoop haardroër en hopeloos te veel selfvertroue op ’n vogtige Kaapse oggend sonder ’n doekie of mussie. Soos ’n kar­ongeluk in slow motion. Jy wil wegkyk, maar jy kan nie, want dis onweerstaanbaar entertaining.

Massas selfvertroue sonder enige rede en ek waag nie wegkyk nie, want dis dalk my verbeelding. Hoe kan dit waar wees? Monique laat my letterlik sonder woorde.

Ek moet erken, ’n nuwe gesig of twee, soos in hierdie geval, is goed vir ’n mens se gestel. Niemand in die huidige reeks gryp visueel ’n mens se aandag soos Sandra of Gita destyds nie. So, die vars gesiggies help om darem ná die advertensie terug te kom, maar as iemand nie binne die volgende week ingryp en daai kind help na ’n mens lyk nie, gaan ek persoonlik ’n klag lê by die BCCSA teen SABC 2 van aanranding teen die menswaardigheid van bruin vroumense.

Ander rasse se mense dink nou die vroumense in my familie kan nie hare blow nie.

Dis ’n belediging hoe hierdie karakter uitgebeeld word. Praat van verwarring. Bruin mense moet nou onbekwaam lyk sodat werkloosheid weer in ons gemeenskappe kan seëvier. Julle verstaan nie hoe sommige mense kan oordryf nie. Ek is met trots een van hulle.

Die drag performance was ’n vermorsing van almal se kosbare tyd. Dit was nou ’n bol stront as ek dit al ooit moes aanskou. Dis vyf minute van my lewe wat ek nooit terug sal kry nie. Ek het geweet hulle is nie beeldskoon nie, daarvoor kan mens jouself voorberei en vrede daaroor spreek sodat dit jou nie onkant vang en jy onnodig teleurgestel word deur jou misplaaste optimisme en hoop in mense nie.

’n Mens hoop mos maar vir die beste vir almal en verwens nie ander nie, want jy wil ’n goeie Christen wees, maar daai mans kon onder geen omstandighede erger lyk as daardie hartseer tros moffies nie.

Dis ’n klap in die gesig van enige moffie wat al ooit ’n rok aangetrek het. Ek het hulle só jammer gekry, ek kon nie eens vir hulle kwaad raak nie. Kanselleer asseblief enige herhalings. Dis die menslike ding om te doen. My fondasie bewe.

Ons skinder weer volgende week. En druk tog mooi asseblief die SHARE-knoppie...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters