6 maande gelede
Bonita lyk nes ’n skelm kalkoen, maar die hare is on point
 ~ 

JULLE, ek wil nou nie uit my beurt uit praat nie, want julle weet ek praat nie graag oor ander mense nie, maar Amorey se voete...

Ek weet daar is ander dinge wat ons eenvoudig moet bespreek en ek sal wel by daai dinge uitkom, maar ek wil net ’n oomblik neem om te vra of julle oukei is, want Amorey het amper op my getrap hier voor my TV.

Dit moes eenvoudig ’n voetdubbelganger gewees het – soos ’n stunt double – want as daai trappers dié vrou se eie voete is, moet ons mediese bystand ontbied.

Sy moet water-enkels hê en die water tap sedert die trauma in die container af na haar voete toe.

Anders het sy erge gout en moet haar voete onder die knie afgesit word voordat sy waterknieë kry.

Voordat ons by die ernstige goed kom, help my gou verstaan hoekom Hilda en Matrone albei vir die twee swendelaars se flou stories val? Hulle lyk nie eens amper eerlik nie.

Ouma H en die Vonkel Voël kan mos met vakansie gaan. Hulle is bitter ledig en jaag elke week k*k aan. Soos stout kinders. Ek is seker ek gaan so gruwelik oud word.

Bonita het die sweet blommemeisie-, eks-gangster-, victim-persoonlikheid nou opgegee vir ’n lewe van skelm sake, skurwe onderhandelings en buite-egtelike babas.

Soos ’n skelm kalkoen lyk sy deesdae, maar haar hare is on point. Niggie gee haar nek ’n pap tyd, want nooit het sy met haar UDF afro haar kop so baie rondgedraai nie.

Dis die soort glad wat ander vroue katterig maak. Ek is net dankbaar sy kon haarself uit daardie sloot van mislukking lig. Daniel verdien ’n ma sonder droë punte. Dis genoeg dat hy in sonde verwek is.

Gepraat van sonde: Het julle gesien hoe Karmen soos ’n papnek rondgedra word al is sy amper langer as Vanessa? Dis tog ongewoon, maar ek dink met rede.

Imagine gou jy is vyf jaar oud soos Karmen en jou voete weeg meer as jou rug. Weet julle wat weeg ’n rug? Dis oor hulle haar so dra. Die lugdruk van die gedra stoot die bloed na haar voete. Dis die bloed wat haar mond moet help om vanjaar meer as twee woorde te sê wat nou in haar voete sit.

Nou die ding met Charmaine en Vivian was van die begin af net onnodig. Nou hou Vince mense hostage. Hy kon sy eie vrou nie in ’n huwelik hou nie, maar hy doen nou hostages.

Hy lyk nes een wat sy moedertaal op standaard-vlak byna gedop het. Dit was seker ’n stresvolle tyd vir die Meintjies-huis toe hulle sy naam daai jaar in die koerant gesoek het. Shame.

Ons kyk maar Maandag verder sodat iemand die omruil-gemors aan ons kan verduidedlik. Ek sien Alexa is terug. Dis ramp bo swaarkry bo ellende.

Ammie het seker nou haar hoog geleerde mediese behandeling nodig, want Alexa is beter as die 90’s se Dr. Quinn, Medicine Woman.

Ons skinner weer volgende week, mense.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters