3 maande gelede
Bonita haal haar beste skills uit om Karmen te steel
 ~ 

Alexa kry moes toe uiteindelik wat haar toekom

Haar eie ma gaan piemp­ haar by die gattas en haar eie pa wil haar nou met alle geweld dood spoeg.

Ons weet dit was nie reg wat sy gedoen het nie, Alexa. Ons almal verstaan daai gedeelte, maar sy is ook jou ma. Sy is eintlik eerste jou ma. Jy piemp nie jou ma nie.

Die wette is net guide­lines. Jy moet hulle self vir jou maak werk en daar is ’n paar wette wat glad nie op pampier geskryf is nie en een van hulle is: Jy Piemp Nie Jou Ma Nie.

Nou staan jy daar alleen teen die heuwel soos Jesus se niggie en keer die wind met jou groot jeans. Sterkte aan jou.

Bonita het weer heel week k*k aangevang, man. Een ding, ou Bonnie staan nie terug vir enige een of enige iets nie. Sy probeer met alle mag daai buite-egtelike kindjie van haar aan die lewe hou, maar dis ’n stryd, want die klein bondeltjie losse sedes het bubble-siekte opgedoen. As hy nie van prinses Karmen se kosbare beenmurgies kry nie, lê hy ses voet onder die grond met die volgende verkoue.

Bonnie steel toe vir Karmen terwyl Vanessa haar nuwe hare swirl en niemand kom dit agter nie. ’n Hele kind steel daai vrou uit haar baby daddy se huis uit. Bonnie was seker ’n geharde inbreker in haar 26-dae voordat die GHD haar lewe kom mooi maak het.

André probeer nou met alle geweld vir Connie kos maak. Was Connie dan so honger dat hy nou moet dink hy’s Jenny Morris? Ek verstaan glad nie.

Ek weet net dis onnodig en daar is 1 000 ander dinge waaroor ’n mens kan praat en wat ’n mens kan doen. Die man wat nou nie kan kos maak nie, is die beste ding wat hulle vir ’n mens kon uitdink.

Ek wil ’n sterk bewoorde brief aan die SABC skryf oor André se kosmakery. Dis totaal en al onnodig.

Fikani maak Daniel se siekte tien keer erger as wat dit is, man. Ek voel hy’t met ’n goeie rede opgehou dokter-dokter speel.

Vertel sommer sy ma en pa dat die kind amper ’n kilogram in ’n paar dae verloor het. Die kind weeg dan net 3 kg! Fikani kan darem oordryf. Daai kind se wange is dan ongeskik rond!

Daar moer Vanessa toe vir Bonnie dat die stof staan, maar Bonnie is niks geworry nie, want sy weet sy’t daai PK verdien. Sy gaan terug tronk toe waar sy eintlik hoort.

Die regstelsel is ontwerp vir mense soos daai vrou. Dít is nou die reine waarheid.

So sit hulle toe almal in die selle langs mekaar.

Amanda, Bonita, Mariaan, en Xander se ander crazy lawyer goose –­ en genade bo genade, Amanda, die moordenaar, is so preggies soos ’n Sassa-finalis.

As die vroumense moet koppe bymekaar sit en vir twee minute probeer saamwerk, kan hulle almal in die Laan se lewe hel maak. Kom ons hoop maar hulle is slim genoeg, want dit sal maak dat ek nooit weer ’n episode mis nie.

Ons skinner weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters