2 maande gelede
Alexa en haar hartseerverhaal is alweer op display
Carina Nel vertel van haar rol as Alexa Welman, ’n mediese dokter en die ‘middelkind’ van die Welman-gesin. Foto: Felix Dlangamandla  ~ 

ALEXA was hierdie week hoogs emosioneel oor Alex.

Mienkie met die pienk plastic extensions het mos uit die bloute soos Lucky Luke se perd sommer haar en Vusi se gemengde werpsel aan Alexa geskenk soos ’n pakkie sopbene. Gift of The Givers kan iets leer by Mienkie.

Alexa beskou hierdie as ’n gulde geleentheid om weer die victim te speel. Sien, sy’t mos ’n hartseerstorie en sy love om almal daaraan te herinner sodra iemand haar die stage gee.

As sy nie haar sin kry nie of simpatie moet werf, vertel sy van haar pa wat haar omgestamp het.

As gevolg daarvan kan sy nie kinders hê nie. Die trauma het gelei tot bulimia, wat basies beteken sy druk haar vinger in haar keel nadat sy geëet het. En as sy teen hierdie tyd nog nie snot en trane huil nie, is dit net omdat sy verkrag is toe sy by die MSF gewerk het in ’n oorloggeteisterde deel van Afrika. ’n Soort Dokters Sonder Grense-program wat sy vir haar grand finale hou sodat niemand met haar kan stry oor watter goeie Christen sy is nie.

Dit werk gewoonlik, maar ou Rickus, haar parapleegbroer met die ruim skrotum, ken al haar produksie.

Sy’s ook nie ’n rassis of snob nie, want haar boyfriend is swart en sy dra net lelike klere en vleg self haar hare. Net jammer sy vleg so k*k. Die visgraat lyk eerder nes ’n kreef wat aan angs ly.

Sy gee gelukkig die donker babatjie terug aan Mienkie, wat ’n skrale R30 000 wou hê vir die geskenk van ouerskap.

Lesedi stoot nou gereeld met Kevin, wat haar padda ’n bietjie Durban-kerrie ingee. Lesedi se slymkonyn ken byna elke kultuur se mans. ’n Mens kan sien met wie sy slaap deur te kyk hoe glad haar pruik daardie week is. Dis tans seepglad vir haar Bollywood adventure en ek wens haar alle sterkte toe.

Bruynwaves werk nog aan hulle pitch vir Love Lodges wat nou ’n poetsbak-komponent en -tema handhaaf. Ek hoop hulle kry nie die kontrak nie, want die mense wat daai Love Lodges besoek, wil hulle huwelike red.

Net Aggie, wat eintlik die tea girl is, maar weens druk van BEE-arbeidsgroepe nou ’n events planner is, is tans in ’n gesonde huwelik met ’n bruin man wat platters maak.

Hulle huwelik werk net omdat Vince niemand met ’n laer selfbeeld kon opspoor nie.

Hoekom probeer sulke mense dus ander se huwelike red met events wat lyk asof dit op ’n Vrydag-agtermiddag deur die jeug van ’n Metodistekerk uitgedink is? Ek is bang die kerkmense gooi my met klippe, so dis beter as ek nou my bek hou.

Ons skinder weer volgende week verder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters