6 maande gelede
AVBOB Poësieprojek benadruk groep se verbintenis tot SA en sy mense
carl van der riet,kedibone mphethi,avbob
Carl van der Riet en Kedibone Mphethi op Besigheid wat Saak Maak op Via.  ~ 

Die AVBOB Poësiekompetisie, wat in 2017 die lig gesien het, het 'n omwenteling in die Suid-Afrikaanse poësielandskap veroorsaak aangesien dit die eerste van sy soort is wat digters toelaat om vir die kompetisie gedigte in hulle moedertaal in te skryf. Dit verduidelik dan ook die ontploffing in inskrywings van digters reg oor die land én is ook die rede waarom die kompetisie die grootste van sy soort in die wêreld is.

Die 11 wenners van die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie, nou in sy derde jaargang, is op 6 Augustus tydens ? glansryke, virtuele gala geleentheid wat regstreeks uitgesaai is, aangekondig. Die sonderlinge gala-aand se vieringe het ook die opvoering van gedigte deur van Suid-Afrika se jongste digterstalent tesame met treffende toesprake rakende die besonderse waarde van poësie ingesluit.

Daarbenewens het die vierde jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie op 1 Augustus 2020 begin en inskrywings kan tot einde November 2020 ingestuur word. 

In die kompetisie se bekendstellingsjaar in 2017 is alle verwagtinge oorskry met 20 000 gedigte wat ingeskryf is. In jaar twee het dit gegroei tot nagenoeg 30 000 gedigte en in jaar drie was daar 30 573 inskrywings. Die gevolg is dat daar ná drie jaar 'n gemeenskap van meer as 18 000 digters is wat meer as 80 000 gedigte ingeskryf het. Meer as 10 000 van hierdie gedigte is gratis op die AVBOB Poësieplatform se aanlynbiblioteek beskikbaar. Op die vooraand van die vierde jaar bevestig die kompetisie weer eens die mag van poësie om te genees en op te hef.

Carl van der Riet, hoofbestuurder van AVBOB, het op VIA se TV-ontbytprogram Besigheid wat saak maak verduidelik die rasionaal vir AVBOB se betrokkenheid by poësie is 'n uitvloeisel van dit waarvoor die onderlinge genootskap staan. Dit is om in diens van die groter Suid-Afrika en sy mense te wees.

"Die afsterwe van 'n geliefde gaan gepaard met diepe verlies en hartseer wat op een of ander manier verwerk moet word. Poësie bied in dié omstandighede 'n manier om te kommunikeer, om uitdrukking te gee aan die smart en emosies wat ondervind word en wat kan help met die genesingsproses. 

"Ons vind dat mense vertroosting kry by digters wat soortgelyke ervaringe ondervind en deur hulle poësie uiting gee aan wat hulle self deurgaan of deurgegaan het."

Van der Riet sê as 'n onderlinge genootskap wat die hele Suid-Afrika en al sy mense dien, was dit van meet af noodsaaklik dat die AVBOB Poësiekompetisie vir al 11 amptelike landstale oop moet wees.

"Elk van die 11 landstale weerspieël opsigself 'n verskeidenheid van kulture, ervarings en maniere van uitdrukking gee aan 'n reeks verwysingsraamwerke en diepe emosies. Dus, deur mense die vryheid te gee om dit in hulle eie moedertaal te kommunikeer, word 'n opregte en ryk verbintenis geskep wat geensins in 'n enkele taal vermag kan word nie." 

Kedibone Mphethi, die 2019 wenner van AVBOB se ‘What if, South Africa?’-poësiekompetisie, is vol lof vir die AVBOB Poësieprojek.

"Die wete dat daar 'n groep in Suid-Afrika is wat besig is om 'n gemeenskap van digters op te bou en ons almal met ons verskillende moedertale saam te snoer, is wonderlik. Dis nie net 'n groot eer om deel van die projek te wees nie, maar dit inspireer my ook om verder as 'n digter te groei en eerlik en getrou te bly aan wie ek is." 

Van der Riet sê AVBOB is trots op die kaliber digters soos Mphethi en al die ander wat die AVBOB Poësiekompetisie in die laaste drie jaar opgelewer het.

"Dis ongelooflik om te sien oor hoeveel talentvolle digters Suid-Afrika beskik. Dis soos om goud te ontdek. Vir ons is dit ? groot eer en voorreg om 'n platform te skep waar mense kan uitstyg en uitdrukking aan hulle diepste binneste kan gee."

Die AVBOB Poësie gala-geleentheid kan hier gekyk word: 

 

Kyk hier die volledige Besigheid wat saak maak onderhoud

 

Kyk hier na die volledige I wish I’d said episode, wat op SABC2 verskyn het, en wat oor Mphethi se digtersreis handel: 

Van der Riet verskyn eersdaags weer op Besigheid wat saak maak om oor leierskap en AVBOB se posisionering vir die toekoms te praat.  Skakel Saterdag, 22 Augustus, om 08:30 in op VIA (DStv-kanaal 147). 

AVBOB se nasionale inbelsentrum is 24/7 beskikbaar. Skakel #DieNommerOmTeHou 0861 28 26 21. Standaard oproeptariewe geld.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters