27 dae gelede
Zeno, Ockhuys en die weermag moet die inwoners red
 ~ 

GENIET vandag die slothoofstuk van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep dit “Die Vreemde Klong”.

‘JARRE, Kolonel, daai alienklong staan hier voor ons!” gil sers. Voight toe Zeno en past. Ockhuys skielik vanuit die niet voor hulle verskyn.

Kol. Van Deventer se gesig verhard. “Dis daai duiwelskind wat die onheil na ons wêreld gebring het!” bulder hy en sit voet in die hoek. Hy pyl op Zeno en Ockhuys af.

Zeno gaan staan in die middel van die pad, met sy voete wyd uitmekaar geplant, en hou sy hand op. Skielik steek die voertuig vas. Die insittendes ruk vorentoe, maar hul seat belts hou hulle in plek.

Grootoog sit hulle terwyl Zeno en Ockhuys op hulle afgestap kom.

“A-asseblief, spaar o-ons!” stamel Voight vreesbevange toe die twee by hul oop venster kom staan.

“Julle moet onmiddellik versterkings inroep en daardie twee horingagtige bergspitse vernietig!” beveel Ockhuys met ’n ferm stem. “Gebruik jul vegvliegtuie of bomwerpers, of enige heavy artillery wat daai spitse kan afskiet. As daardie spitse vernietig is, sal daardie demoniese portal ook vernietig wees.

“Dan kan geen demoon verder hierheen kom nie. Die weerstand van die demone wat reeds hier is, sal dan verswak wees. Sodoende sal ons hulle kan beveg en verdelg!”

Kol. Van Deventer se mond hap oop en toe soos hy na woorde soek.

“Doen dit nóú!” bulder Ockhuys hom uit sy geskokte toestand.

Van Deventer gryp sy selfoon en skakel naarstig ’n nommer. “G-generaal, asseblief, Generaal m-moet nou mooi luister ...” stamel hy.

Terwyl kol. Van Deventer die boodskap aan die hoof van die weermag oordra, kyk sers. Voight geskok toe hoe Zeno en Ockhuys sommerso in die niet verdwyn.

Intussen woed die slagting in Duiwelskloof voort. Die demone stort die wêreld steeds deur die portal binne.

Nadat kol. Van Deventer alles aan die generaal verduidelik en ’n eskader vegvliegtuie en helikopters as versterking gevra het, sit hy voet in die hoek na Rustenville. Die inwoners se lewe is op die spel. As bevelvoerder van die special forces het hy ’n verantwoordelikheid om hul veiligheid te verseker.

Hy het gesien van die gedrogte wyk na daardie kant toe uit. Hy klim sommer in die ry op die radio en blaf: “Aandag, alle manskappe! Luister nou mooi. Hier volg jul nuwe bevele.

“Almal in die tydelike operasionele gebied in Duiwelskloof, onttrek onmiddellik na Rustenville. Die monsters beweeg daarheen. Hulle gaan die inwoners aanval! Gebruik enige voertuie wat beskikbaar is!

“En laat daardie polisiemanne en twee vroue wat ons onder kwarantyn het vry, indien hulle nog lewe!”

Toe trap kol. Van Deventer die petrolpedaal plat en lê oop dorp se kant toe. Hy loer weerskante van die pad en sien doer in die bosse hoe gedrogte bome in hul pad na Rustenville plat hardloop.

Twee van die soldate in Duiwelskloof skarrel om die kwarantyn­gebou oop te sluit om Geswindt-hulle, Lena Karbonkel en Nelie Oppelt vry te laat.

Maar toe hulle in die gebou kom, staar hulle verbaas na ’n leë kamer. Daar is geen teken van die klomp nie!ZENO en past. Ockhuys verskyn met ’n helse knal op die oop vlakkie voor die dorp se ingang. Van die inwoners wat daar vergader, deins verskrik terug.

“Ek het mos gesê oordeelsdag is op ons!” kerm ’n ou antie.

Ockhuys hou sy hande op.

“Bedaar, mense! Ek en Zeno is hier om die dorp te beskerm teen die vyand wat hierheen op pad is!” sê hy en wys na waar die eerste linie demone in aantog is.

“Past. Ockhuys!” hoor hy iemand skree. Hy is verbaas om Lena Karbonkel en Nelie Oppelt na hom toe te sien hardloop.

“Hoe het julle hier gekom? Ek dog nog julle is in een van daai geboue in Duiwelskloof.”

Lena wys na Zeno. “Die klong het aan ons verskyn en toe word ons, daai polisiemanne inkluis, tot hier gevoer!” vertel sy grootoog.

Ockhuys kyk dankbaar na Zeno. Hy besef nou dís wat Zeno by daai geboutjie gaan doen het.

’n Snaakse uitdrukking verskyn op Zeno se gesig. “Past. Ockhuys, kry die mense uit die dorp! Góú!” beveel hy ernstig.

Ockhuys kyk verbaas na Zeno, wat dan nou ewe skielik Afrikaans praat. “H-hoe nou?!” stotter hy.

Zeno kyk ernstig na Ockhuys. “Jy is ’n opregte man van God! Dís hoe ek jou in daardie huis herken en jou as my helper gekies het.

“Kry die hulp van die orige weermaglede en kry die inwoners so ver moontlik van die dorp. Ek sal die demone probeer keer totdat daardie portal vernietig is. Dit kan gevaarlik raak vir sterflinge.”

Ockhuys snap onmiddellik. Hy swaai om en wink een van die army-latte nader. Hy verduidelik vinnig die nuutste verwikkeling.

Gou-gou word almal opgekommandeer wat kan help om die mense uit die dorp uit te kry.

Toe gaan staan Zeno by die ingang van die dorp. Hy plant sy bene wyd uitmekaar, strek sy hande na bo en wag die demone in.

Skielik slat weerligstrale vanuit die hemel en konnek met sy hande. Sy hele liggaam verander in ’n gloeiende bol energie.

Die aankomende demone steek vas asof hulle teen ’n onsigbare muur vashardloop. Hulle grom en maal gedisoriënteerd rond.

Omtrent 15 minute lank hou dit so aan. Later is die hele wêreld vol brullende gedrogte wat hul voete woedend stamp en protesteer teen die onsigbare mag wat nou in hul pad staan.

Van ’n afstand af staan die soldate slaggereed om tot die aanval oor te gaan.

Skielik wemel die lugruim van vegvliegtuie. Die demone probeer opspring om hulle by te kom.

Sarsies bomme word op die spitse in Duiwelskloof afgeskiet.

Dit verbrokkel in helse vuurbolle en tuimel met ’n groot geraas teen die hellings af.

Stadigaan begin die maalkolk met driehoek en al verdwyn.

Nóú dreun die grond soos die gedrogte brul en hulself op die grond neergooi terwyl hul bose energie hulle verlaat.

Kol. Van Deventer sien dit. “Vuur!” gil hy die bevel.

Die helikopters en vegvliegtuie peper die demone met grofgeskut.

Een vir een word die duiwels­gesante uitgewis.

Toe alles klaar is, kom die inwoners stadig nader gestap aan die slagveld. Hulle loer bangerig na die snaakse kadawers van monsters wat die hele wêreld vol lê.

Dit is past. Ockhuys wat Zeno eenkant op ’n hopie sien lê.

Hy stap nader en ontdek daar is geen lewe meer in die klong nie.

“Hy het sy lewe vir ons opgeoffer!” sê past. Ockhuys hartseer aan die soldate en mense wat nou ook om hulle vergader.

Toe, skielik, voor hul verbaasde oë, begin Zeno se liggaam stadig in ’n helder lig disintegreer.

Toe skiet dit met ’n weerligstraal in die hemel op – op presies dieselfde manier waarop hy hier aangekom het om die mensdom te help.

  • Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters