11 dae gelede
Will E. Hoorie maak seker sy ma weet hoe dit is
 ~ 

SONLANDERS! Antie Magrieta perform behoorlik tydens haar seun se hofverskyning. Dié word van ernstige misdade aangekla. Die verrigtinge kan maar net nie aan die gang kom nie, want antie Magrieta bly inchime. Gaan sy op haar plek gesit word? Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

ANTIE Magrieta het nog nooit ’n wag voor haar mond gehad nie.

Daar is baie wat glo dat dié wag al sedert haar geboorte retrenched is.

Die antie sê eenvoudig wat sy dink. In daardie oomblik, maak dit nie saak wie in die omtes is nie. Of waar sy dit sê nie.

Oor die jare was daar al baie voorvalle van ’n skellery oor en weer oor die goed wat sy kwytgeraak het.

Eens op ’n keer het daar selfs tydens Nagmaal ’n fight in die kerk uitgebreek toe antie Magrieta kliphard gewonder het of die bietjie Nagmaalwyn ’n jollende kerkbroer se sondes nou weggewas het.

Toe Covid haar dorpie tref, het antie Magrieta geweier om ’n masker te dra as sy ’n winkel binnegegaan het, want sy het hoog en laag gesweer sy is nie ’n rower of familie van Zorro nie.

Nie eens toe haar buurvrou destyds weens Covid-19 sterf, het dit antie Magrieta se siening verander nie. Sy het net aanhou glo dat dié buurvrou dood is weens te veel kinders van verskillende mans.

So, natuurlik was daar ligte pandemonium in die hofsaal toe antie Magrieta so kapsie maak teen die getuienis van die ondersoekbeampte. Diegene wat vir sensasie gekom het, was innig spyt dat hulle nie popcorn saamgebring het nie, want die uitdrukking op landdros QN Uys se gesig het vir almal gesê dat daar oorlog op pad is. Gróót oorlog.

“Mevrou Hoorie, dit lyk nie of u wil hoor nie,” het landdros Uys gesis. Daar was ’n onverbiddelike uitdrukking op sy gesig – amper soos die een wat hy opsit as hy Sondae sy rol as ledeprediker vertolk en aan die gemeente preek oor die loon van die sonde.

Die einste preek waar antie Magrieta hom in die rede geval en gevra het dat as daar ’n loon betrokke is vir sonde, hoekom kry sondaars dan nie payslips nie?

“Ek was baie geduldig tot sover, maar dinge kan nie só aangaan nie. Alles in ons land berus op die respek wat ons vir ons regstelsel moet hê.

“As ek nie ’n stokkie hiervoor gaan steek nie, gaan dinge lelik uitrafel.”

Antie Magrieta het moeisaam orent gekom en haar rok reggetrek sodat haar onderrok nie te veel uitsteek nie. Sy was alte bewus daarvan dat Jan Hoender agter haar gesit het – hul dorpie se resident perv, wat al telkemale deur inwoners in hul hoenderhokke gevind is.

“Edelagbare, ek wil bitter graag weet waar u ’n stokkie kry.”

’n Gedempte geproes klink agter haar op.

“Ek wil nie lelik wees nie, maar ek dink nie hierdie getuie se woord kan geglo word nie. Selfs al sit sy haar hand op tien Bybels en sweer sy gaan die waarheid praat, sal ek haar steeds nie glo nie.”

“En hoekom nie?” vra landdros Uys stug. “Wat maak u so ’n deskundige op die gebied van iemand anders se karakter?”

“Want ek het haar stert vir haar grootgemaak,” antwoord antie Magrieta sonder skroom.

“Ek het destyds ál haar stront-luiers uitgewas toe haar ma, Netta, so diep in die bottel gekyk het. En nog een ding wat nie twee is nie, sy was in ’n verhouding met my seun, wat nou van al hierdie liegstories beskuldig word.

“Sy het hom destyds afgesê toe hy nie vir haar geld by die Money Market wou inbetaal nie. Nou hoe kan só iemand geglo word?”

Die hofgangers begin onder mekaar brom.

“Stilte in die hof!” gil sersant Wilfred Kapilfred.

Landdros Uys draai na kapt. Suzie Mapimpi. Dié is bloedrooi in haar gesig en as sy op dié oomblik iets anders as haar polisie-uniform kon gedra het, sou dit ’n aarde-sluk-my-nóú-in T-hemp wees.

“Is dit so, kapt. Mapimpi?” vra die landdros.

Die kaptein raak nog ’n ent rooier as ’n All Gold-tamatie en knik net skaam.

Landdros Uys sug en draai na die staatsaanklaer Dicky Lake.

“Meneer Lake, ek neem aan dat u vertroud is met die term botsende belange?”

Dicky lek senuagtig oor sy lippe en lig homself stadig uit sy stoel.

“Soos dit die hof behaag, Edelag­bare.”

Landdros Uys ontplof. “Wat behaag my? Botsende belange?”

“Nee, nee! Natuurlik nie,” skerm Dicky vinnig. “Ek bedoel maar net, Edelagbare, dat kaptein Mapimpi nie die enigste ondersoekbeampte in die saak is nie. Haar kollega kan ook kom getuig oor die meriete van die beskuldigde se borgtogaansoek.”

“Ek verdaag dan hierdie verrigtinge vir ’n halfuur.

“Dit behoort genoeg tyd te wees om die ander ondersoekbeampte hier te kry,” sê die landdros streng en staan op.

“Staan innie hof!” bulder sers. Kapilfred weer.

“Is dit nodig dat hy so moet skrou?” vra antie Magrieta.

Landdros Uys kan nie gou genoeg uit die hofsaal kom nie. Vir die behoud van sy eie siel moet hy so gou moontlik wegkom.

Die Vader weet, hy smaak nou ’n sterk dop whiskey, sonder chaser.

Toe die landdros verdwyn, staan Will E. Hoorie op en draai om.

“Yor, Ma!” sê hy in ongeloof. “Ma vat ook nie nonsens nie, nè?

“Suzie gaan my mos nooit weer ’n kans in haar lewe gee nie.”

Antie Magrieta snork onvroulik deur haar neus.

“Wil jy nog iets met daai vrou te doen hê nadat sy jou nóg ’n ent nader aan tronkstraf wil vat? Daar is nie net haaie in die see nie, daar is ook baie visse.”

“Het Ma regtig nie entjies saamgebring nie?” vra Will E. Hoorie. “Ek is baie lus vir rook.”

“Jy moet lus kry om jou lewe reg te ruk!” kap antie Magrieta terug. Weet jy hoeveel skandes jy nou in my lewe gebring het?! Wanneer gaan jy ’n slag hoor, Will E. Hoorie?!

“Die mense praat al van ons. Ek het jou mos nie so grootgemaak nie. Kyk my in die gesig. Het jy die goed aangevang waarvan jy beskuldig word?”

“Hoe ken Ma my?” begin Will E. Hoorie uit te vaar. “Jinne, Ma dink altyd die slegste eerste van ’n mens. Ek het nie die goed aangevang wat die mense sê ek het nie. Ek ken nie eers daai vroumense nie.”

“Hulle het jou dan op die toneel gearresteer. Wil jy vir my sê dis jou skaduwee wat hulle in die vên gelaai het? Will E. Hoorie, ek is jou ma. Jy lieg nie vir my nie. Jy gaan geld optel wat jy nie sal kan bank nie. Ek kan jou nie support as jy regtig daai vieslike goed aan daai meisies gedoen het nie.”

Daar is ’n hartseer uitdrukking in Will E. Hoorie se oë.

“Ek dink ek is geframe, Ma.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters