14 dae gelede
Vir die kinders se onthalwe moet sy iets walgliks doen
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Gwenyth verlang na Tandi, die huishulp wat haar vriendin geraak het. Tandi was die een wat haar bygestaan het toe dinge in haar huwelik nie goed gegaan het nie. Intussen gaan dinge nie so lekker vir Tandi in die Oos-Kaap nie. Gaan hierdie twee vroue geluk proe? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van CHRISTO MEYER se “Vrou uit die Township”.

DIS aand in die Cyril Mbeki-township, Tandi se geboorteplek. Hier leef die meeste mense van die hand in die tand.

Armoede is ’n kenmerk van hierdie halfvergete deel van die Oos- Kaap. Werk is skaarser as drank in die tyd van corona. Die inwoners sal enige iets doen om te survive. Letterlik enige iets.

Munisipale dienslewering hier is van die swakste in die land. Die straatligte wat nie werk nie, word as normaal beskou, sowel as die stukkende paaie.

Behuising is ook ’n kopseer. Die leë beloftes van housing for all kom van 1994 af aan. Hier kry die meisies vinnig ’n kêrel, trek saam in en kort voor lank is daar ’n baba. Sassa sal betaal.

Swangerskap is so algemeen in die township soos korrupsie in ’n sekere politieke party. Dit hou nie op nie. Kinders kry sommer op die skoolbanke kinders. Vir die mense van Cyril Mbeki het die dice verkeerd geval.

Tandi wou nie vir die res van haar lewe hier bly nie. Hier was niks vir haar nie, veral nie nadat Jackson Kuviki haar soos ’n vloerlap behandel het nie.

Soos baie ander meisies het sy die fout gemaak om vir ’n man se soet woordjies te val.

Jackson was ’n regte charmer en ’n gladdebek. Hy was 23 en sy 17 toe dinge tussen hulle begin ernstig raak. Op 18 was sy verwagtend.

Tydens haar swangerskap het Tandi ’n kant van Jackson leer ken waarvan sy niks gehou het nie. Hy het haar begin rondpluk en deur die gesig geklap en haar daarvan beskuldig dat sy ander mans in hul plakkershut toelaat wanneer hy bedags by die werk is.

Dít terwyl sy haar besig gehou het met wasgoed, hul plekkie skoonhou en seker maak hy kry ’n lekker bord kos wanneer hy by die huis kom.

By rondpluk en klap het dit egter nie gebly nie. Nee, Jackson wou wys wie is baas. Een aand het hy haar erg aangerand. Só erg dat sy hom moes smeek om op te hou. “Slaan my eerder by die gesig as jy wil, maar moenie skop hom by my maag, Jackson. Jy gaan hom seermaak die baby.”

Lafhartig soos Jackson was, het hy nooit met die vuis in Tandi se gesig geslaan nie. Hy wou nie hê die houe of blou merke moes sigbaar wees sodat hy daaroor gekonfronteer kon word nie.

Die skoppe teen Tandi se maag het tragiese gevolge gehad. Eers toe Jackson die bloed op haar klere sien, het hy geskrik en besef iets is verkeerd. Hy’t by die deur uitgehol en iemand gevra om die ambulans te bel. “Tandi het geval,” het hy gelieg.

Toe Tandi die baba verloor, het Jackson sy jammergevreetjie opgesit. “Jy moet my vergewe, liefie. Ek weet nie wat oor my gekom het nie. Ek belowe jou, dit sal nooit weer gebeur nie.”

Tog het dit weer gebeur ... en weer ... en weer. Tandi was blind genoeg om elke keer vir sy verskonings te val. Sy het ’n tweede keer swanger geraak en weer het Jackson die ongebore baba afgeskop.

Hierdie keer kon die dokters dadelik sien dit was nie sommer net ’n val nie en die hospitaal het ’n klag by die polisie ingedien.

Tandi moes vir haar lewe vlug, want Jackson het gedreig om haar dood te maak. Dis toe dat sy besluit om in die Kaap werk te soek, al is dit ook kombuiswerk. Sy het by iemand gehoor sy hoef nie matriek daarvoor te hê nie.

Maar nou is sy terug op dié vervloekte plek. Asof uit ’n droom ruk ’n kinderstem Tandi terug tot die teenwoordige tyd.

“Die pot is leeg,” sê Mondisa toe sy op die ou rusbank in die karig gemeubileerde voorkamertjie langs Tandi kom sit.

Tandi wens sy kan iets doen aan die afgeskilferde verf teen die muur. Maar sy is platsak. Mev. Gwenyth gaan eers einde van die maand iets in haar rekening inbetaal.

Op die vloer is ’n tapyt wat al deurgeloop is. As sy dit ook met ’n nuwe een kan vervang.

“Ek het die laaste bietjie pap tussen ons drie verdeel,” verduidelik die fyngeboude meisietjie. “Daar het niks vir jou oorgebly nie, my antie.”

Tandi sit haar arm om haar suster se oudste meisiekind, vryf oor haar kop. “Moenie worry van my nie. Ek sal fine wees. Solank jy, Zuki en No­monde nie honger kooi toe gaan nie.”

Mondisa is 12, maar word te vroeg ryp gedruk. Sy kry nie kans om behoorlik kind te wees nie. Sy moes dikwels in die aand na haar sussies omsien terwyl hul ma by die een of ander sjebien haar lyf ’n lekker tyd gegee het.

Baie aande het Thembi nie eens huis toe gekom nie.

Mondisa se stem bewe toe sy sê: “Ek weet nie wat ons môreoggend gaan eet nie, my antie. Die mieliemeel is alles op.”

’n Knop kom sit in Tandi se keel. Sy baklei hard om nie in trane uit te bars nie. Sy moet vir die kinders se onthalwe sterk wees. Hoe gaan dit lyk as sy nou begin huil?

“Daaroor hoef jy nie jou kop te breek nie. Die Here sal voorsien. Antie sal ’n plan maak. Gaan slaap jy maar. Antie wil nog ’n rukkie hier sit.”

Tandi het ’n plan hoe sy geld in die hande kan kry. Dit lyk na ál uitweg. Sy wil dit nie doen nie, maar het sy ’n ander keuse? Die kinders is seker al gatvol van mieliepap. Soggens is dit pap, smiddae is dit pap, saans is dit pap. Wanneer laas het hulle ’n ordentlike bord kos geëet?

Tandi gaan maak seker die kinders slaap voordat sy saggies by die voordeur uitglip. Die wind waai liggies teen haar gesig, maar dis nie koud nie. Sy hoef nie ’n trui oor haar rok aan te trek nie.

Buite is dit stikdonker. Haar hart klop wild. Sy hoop die Here vergewe haar vir wat sy nou gaan doen, maar dis regtig omstandighede buite haar beheer hierdie.

Daar is nie nou tyd om net aan haarself te dink nie. Die kinders moet eet. En sy moet geld hê vir die taxi om môre te gaan kyk hoe dit met Thembi in die hospitaal gaan. Wie weet, dalk is dit die laaste keer dat sy haar suster lewend sien.

Tien minute later bevind sy haar in Madikizelastraat. Sy sien daar brand lig in Papa Jacob se huis. Sy kyk vlugtig rond voordat sy vinnig nader stap.

Niemand mag haar hier gewaar nie. Sy is nie hier omdat sy hier wil wees nie; dis uit desperaatheid.

Tandi klop en kort daarna word die deur oopgemaak. Papa Jacob nooi haar in en sluit die deur toe sy binne is.

Geen omdraaikans nou meer nie, dink Tandi. Net oë toeknyp en deurdruk.

“Wat kan ek vir jou doen?” vra Papa Jacob.

“Papa Jacob sien, die ding staan eintlik so. Ek is hier oorlat ek ...”

Terwyl sy praat, glip Papa Jacob se regterhand onder haar rok in.

Tandi laat hom toe om aan haar te vat. Almal in die township weet Papa Jacob het nie ’n probleem daarmee om vir seks te betaal nie.

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters