Verlede maand
Vier sibbe moet oor hul ma se verassing besluit
 ~ 

Die nuwe week skop af met Esmé Cupido se “Joyride met Ma se As”. Geniet nou hoofstuk 1 van dié verhaal.

‘SO, ONS gaan haar veras?” Mario kyk beurtelings na sy twee susters en ouboet.

“Ek dink tog verassing is so koud. Ek voel ons moet ordentlik begrafnis hou. Ma het die hele wêreld geken. Almal sal wil kom,” sê Edna, die tweede oudste.

“Wel, Ma se uitdruklike bevele tot op haar sterfbed was dat sy veras wil word.

“En julle ken Ma. Sy sal kom spook as dinge nie gebeur soos sy gesê het nie.”

Amanda, die jonger suster, loer vlugtig oor haar skouer, asof sy verwag om haar ma agter haar te sien.

“Dis goedkoper ook. Antie Leen het laas vir oom Roelfie vir next to nothing veras gekry.”

Ouboet grinnik.

“Ja en toe? Jy vergeet dat sy vir weke ’n hond se as vertroetel het terwyl oom Roelfie steeds in die lykhuis gelê het, onder ’n ander naam.”

Edna kyk streng na haar broers en jonger suster. “Nee, wat. Ma was koekoes hier teen die einde. Wat het sy van verassing geweet?

“Ek sê ons begrawe.”

“Wag nou, wag nou. Ek sou ook verkies om Ma te begrawe, maar oom Joseph kom sien ons mos nou oor Ma se laaste wense. Hier stop sy kar juis.”

Mario stap op die stoep uit terwyl die ander drie nog koukus.

’n Ouerige man met ’n bosserige baard stap die sitkamer binne.

“Middag, julle. ’n Vreugde om julle ná al die maande hier bymekaar te sien, selfs al is die omstandighede nie so gunstig nie.”

Oom Joseph sit op Mario se plek en hy gaan haal vinnig een van die eetkamerstoele om op te sit.

Edna sit koel en beheers teen die bank terug terwyl Amanda langs haar senuagtig met ’n tissue vroetel.

Almal se oë is op die oom terwyl hy ’n opgevoude papier uit die binnekant van sy baadjiesak haal.

Oom Joseph maak keel skoon. “Jul ma was nie ’n maklike mens nie, julle weet, en daarom het sy vir my dié brief gedikteer.

“So, alles wat ek nou gaan lees, is haar eie woorde, asof sy nog hier is.”

Amanda loer weer oor haar skouer die donker gang in.

Oom Joseph se stem weergalm in die stil huis, asof hy besig is om ’n koortjie te sing.

Liewe kinders

En so sit julle nou in gelid om te hoor wat ek nog vir oulaas te sê het.

Ouboet, ek hoop die paar sente wat ek aan jou bemaak, sal ’n kwart van jou skuld kan delg.

Jy kry die R30 000 wat nog oor is van jou pa se pensioen. Ek het so mooi met die geld gewerk, maar nou kan jy dit maar kry om jou lenings en jou vrou se enorme klereskuld te betaal.

Dalk is aanneming ’n opsie as dit nie anders kan nie.

Edna, jy sit daar met jou stywe lippies. Vir jou het ek Oumagroot se eetstel en ander breekware uit die jaar toet gehou. Ek weet jy sal mooi daarna kyk. Ek wou jou die bruin stel koppies in die kombuis ook nagelaat het, maar ek weet jy sal jou neus daarvoor optrek.

Mandatjie, jy kry Ma se juwele. Dit is nou nie grand goed wat duisende gekos het nie, maar ek weet jy sal van my goedjies hou. Ma sal altyd naby jou wees, net ’n hanetreetjie ver as dinge te veel raak.

Daai kêreltjie wat jy nou het, is nie die moeite werd nie.

Dan, Mario. Jy is die jongste en die een wat gereeld met Ma in kontak was. Jy kry die huis en die kar.

Verkoop die kar en gebruik die geld om die lekdak en muwwe mure mee reg te maak. Sit maar ’n heining ook om, want die kwajongens het nou al ’n paadjie deur my gras gestap.

Onthou om die vrugtebome agter in die jaart nat te maak en daai mooi geel blommetjies gereeld uit te trek – dis onkruid. As jy nie keer nie, vervuil hulle die plek.

Nou ja. Ek het gesê ek wil veras word.

Geen begrafnis nie. Moet veral nie vir Gerda en Mieta nooi nie.

Die een skuld my geld en die ander een het belowe sy brei vir my ’n jersey. Ek is koud gewag.

My as moet julle daar by Hiepiesbaai in die see gaan strooi. Vat Ouboet se kombi, vertrek Vrydagoggend, dan slaap julle die aand by Vredespoort oor.

Saterdagoggend ry julle verder tot by Klawersdrif, slaap daar by ant Nonnie-hulle. Sondagnamiddag sal julle by Hiepiesbaai aankom. Eet eers ’n ou ietsie.

Gooi my as daar by daai rooi ding waar ek amper laas verdrink het. Maandagoggend kan julle terugry en slaap dan almal die aand hier in die huis.

Oom Joseph sal ’n bedrag geld gee wat al die onkoste sal dek.

Ma

Oom Joseph maak eers weer keel skoon voordat hy ongemaklik die papier opvou en weer in sy baadjiesak druk.

Almal sit verslae. Edna kom eerste tot verhaal.

Sy staan op en trek haar swart rompie reg.

“Ek gaan nêrens nie. As Ma veras wil word, moet dit seker maar gebeur, maar dit is waar ek dit stop.”

Sy val amper oor oom Joseph se lang bene en stap kop in die lug die gang af.

“Oom, sal Oom kan reël dat Ma … vir die verassing, asseblief. Sal dit môre kan gebeur?” vra Amanda huiwerig.

“Want as Ma wil hê ons moet Vrydag …”

“Natuurlik, Amanda. Dis eintlik klaar gereël. Jou ma se opdrag!” lag oom Joseph.

Ouboet staan ook op. “Mense, my kombi is nie 100% reg nie. Ma’t nie daaraan gedink toe sy die joyride gereël het nie. Kom ek gaan wys julle gou.”

Die twee broers en oom Joseph stap geselsend by die voordeur uit.

Edna kom weer die sitkamer ingestap.

“En hoekom moet ons by ant Nonnie gaan oorslaap? Sy en Ma het vir jare nie gepraat nie oor Ma een Kersfees gesê het sy is so dik soos ’n vlakvark.”

Sy knoop haar kamerjas so styf vas dat Amanda wonder hoe sy asemhaal.

“Onthou, ant Nonnie is ook nie op haar mond geval nie. Sy’t toe vir Ma gesê Ma het ’n pikkop.”

Die twee susters giggel.

“Ja, dit was die keer toe Ma haar hare stomp afgeknip het. Ma het vir weke daarna ’n kopdoek gedra. Pappa het gesê sy’t die doek gedra selfs as sy gaan slaap het.”

Amanda sit simpatiek haar arm om Edna se skouers en sê sag: “Kom ons gaan en kry dit agter die rug, sus.”

Edna pers haar lippe opmekaar. “Ons het seker nie ’n keuse nie. Daarvan het Ma seker gemaak.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters