Verlede maand
Vier gewapende mans storm by Andries se huis in
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet nou die vierde hoofstuk!

DOUVOORDAG is Julia Boggelblaar op haar eggenoot se case.

“Andries, luister nou baie mooi vir my. As jy vanmôre iets op die hart het, beter jy dit uitspoeg. Ek hou niks van ’n agteraf gekonkel nie. Jy as regsgeleerde weet mos ’n mens maak nie van jou hart ’n moordkuil nie.”

Andries is nog half deur die slaap. Hy het nie krag vir sy vrou se gekerm nie. Sy is sommer aspris. “Waarvan praat jy tog?” mompel hy.

Julia reageer: “Jy hou jou verniet onnosel. Jy weet presies waaroor dit gaan. Ek het al gisteraand agtergekom iets vreet aan jou. Jy het my heelnag uit die slaap gehou met jou rondrollery.”

“Maar niks is fout nie, Liefie,” keer Andries haastig. “Jy verbeel jou net. Alles is piekfyn.”

“Skaam jou om so in my gesig te lieg, Andries! Jy sal nie ongestraf bly nie. Jy dink verniet ek is onder ’n kalkoen uitgebroei. Kom, ek wag. Uit daarmee. Neem my in jou vertroue.”

Andries sug. “Jy sit die pot mis, my vrou.”

“Ek soek die waarheid, Andries. Die reine waarheid en niks behalwe die waarheid nie. As dit ’n ander vrou is na wie jou gedagtes dwaal, wil ek daarvan weet.”

“Genugtig, Julia, waar kom jy aan sulke lawwigheid?”

Sy begin snik. “Wanneer laas het jy aan my gevat? Wanneer laas het jy vir my gesing ‘Julia, ooh baby, you’re a shining star?’ Wanneer laas, Andries?”

As Julia bedoel het om hom te laat sleg voel, het sy dit reggekry. Hy weet sy is reg. Hy skeep haar af.

“Ek ... ons ... wil jy nie liewer opstaan en gaan koffie maak nie?”

“Nou goed, maar moenie dink jy gaan my laat vergeet nie. Praat sal jy praat. Ek is jou vrou, jy behoort nie geheime vir my te hê nie.”

Andries weet hy gaan nie die einde hiervan hoor nie. As Julia eers ’n ding in haar kop het, los sy dit nie sommer nie. Miskien moet hy liewer oop kaarte met haar speel. Wag, laat hy ook opstaan en sy tande gaan borsel. ’n Lang dag lê voor.

In die kombuis wil Julia weet: “Is dit nie hierdie week die uitspraak van daai watsenaam-vrou nie? Die een wat haar man met sy eie vuurwapen doodgeskiet het?”

Andries neem ’n slukkie van sy koffie. Julia is reg. Daar is iets wat hom pla. Hy kon laasnag byna nie ’n oog toemaak nie.

“Jy praat van Carol Bonthuys. Ja, sy hoor binnekort haar lot.”

“Jy het haar mos verteenwoordig. Hoe lyk haar kanse?”

“Om die waarheid te sê, ek is nie seker nie. Ek ...” Andries skud sy kop.

“Nou verstaan ek. Dís die probleem waarmee jy heeltyd worstel. En hier beskuldig ek jou van allerhande onheilighede.”

“Julia, jy behoort mos te weet ek het net oë vir een vrou en dis jy.”

“Ek is jammer, maar sê my gou, jy is dan gewoonlik so vol selfvertroue voor ’n hofuitspraak. Wat maak dit dié keer anders?”

“Ek is nie seker of ek Carol se saak sterk genoeg in die hof gestel het nie. Ek is bang sy word skuldig bevind.”

“Maar jy het seker gronde waarop jy kan appelleer, sou dit nodig wees?”

“Dit gaan nie so eenvoudig wees nie. Dan het ek gister boonop ’n oproep van ’n joernalis gekry. Bianca van Eck.”

“Wat soek sy?”

“Sy wil ’n onderhoud met my voer.”

“Het jy ingestem?”

“Ja, maar net as ons die saak wen. Sy sê ek bekommer my verniet, sy glo die regter gaan in Carol Bonthuys se guns beslis. Ek weet darem nie so mooi nie.”

“Ruk jou reg, Andries. Dit sê baie as ’n joernalis meer vertroue het as jy.”

“Dis makliker gesê as gedaan, my vrou. Maar ek sê jou wat, jy hoef nie vanaand kos te maak nie. Ons kan by Nazley’s Restaurant in Goodwood gaan eet.”

“Dit klink lekker. Ons was lanklaas daar. Hulle diens is altyd so goed. Dan kan ons sommer gesels oor ons anniversary.”

“En daai wegbreeknaweek waarby ons nooit uitgekom het nie. Ek wens ek kon vandag by die huis bly, want my gedagtes is die hele tyd by die Carol Bonthuys-saak, maar daar is te veel werk op kantoor waaraan ek moet aandag gee. Ek hoop regtig sy gaan fine wees.”

“Jy moet jou nie so opwerk nie, Andries. Laat die gereg sy gang gaan.”

“Ja, maar dit voel net nie reg dat Carol moet tronk toe gaan nie. Ek het gedoen wat ek kon en die finale besluit–”

Die deur bars skielik oop. Vier mans kom ingestorm. Elkeen met ’n balaklawa oor die kop en ’n skietding in die hand.

“Wie is julle? Wat wil julle hê?” vra Andries verskrik.

“Hou jou bek. Hier doen ék die praatwerk,” sê ’n man met ’n growwe stem. “Hande in die lug!”

Andries gehoorsaam.

“Moenie my vrou seermaak nie,” sê Andries.

Hy kry ’n klap deur die gesig. “Het jy nie ore nie? Ek het gesê jy moet jou bek hou.”

As die mans gekom het om hom te beroof, hoekom vat hulle nie net wat hulle kan kry en laat hom en Julia met rus nie?

“Maak hom vas,” beveel Growwestem. “Vandag sal ons jou wys wat ons met lawyers maak wat moordenaars represent. Clayton was ons tjommie. Dit was nie nodig vir sy vrou om hom vrek te skiet nie.”

Twee mans bind Andries se hande en voete vas. Hulle druk ’n stuk vuil lap in sy mond.

“Ek hoop nie jy gee om nie,” praat Growwestem weer, “maar ons gaan jou vrou so vir ’n rukkie leen. As jy gelukkig is, sien jy haar weer lewendig. Otherwise ...”

Andries sit magteloos en toekyk hoe Julia rondgepluk word. Haar oë smeek om hulp, maar hy kan niks doen om haar te help nie.

Die skurke dwing haar saam met hulle na buite. Hy hoor hoe ’n voertuig wegtrek. Al wat hy kan doen, is ’n skietgebedjie opstuur: “Here, asseblief, bewaar my vrou.”

By Carol Bonthuys se ouerhuis in Elsiesrivier is daar ook chaos. Buite in die straat drom ’n groep nuuskieriges saam. Van die polisie is daar nog geen teken nie.

Iemand het ’n petrolbom uit ’n bewegende voertuig na die Bonthuys-woning geslinger.

Dit het groot skade aangerig, maar gelukkig is nie Carol of haar ouers beseer nie.

Carol probeer vir Andries Boggelblaar in die hande kry, maar sy foon lui net. Hoekom antwoord hy nie? Hy het dan gesê sy kan hom enige tyd bel, dag of nag.

Dié aanslag op haar lewe was nie om dowe neute nie; dit het iets met die hofsaak uit te waai. Ook die naamlose oproep van ’n oomblik gelede.

Die persoon aan die ander kant het eers swaar asem gehaal voordat hy in haar oor geskree het: “May you rot in jail, bitch!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters