12 dae gelede
Verliefde Simson wil iets doen om vrede te herstel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Simson is nou ’n teenager wat ’n ogie het op ’n meisie in sy klas. Die groot probleem is dat Delicia die dogter is van ds. Lackay – die einste dominee vir wie sy ma, antie Mavis, jare tevore so uitgeskel het toe sy besluit het om nooit weer kerk toe te gaan nie. Antie Mavis wil ook niks daarvan weet dat haar kind die dominee se dogter eye nie. So, hoe nou gemaak? Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se Simson se Hare.

VIR Simson begin dit voel asof hy en Delicia die reincarnation van Romeo en Juliet is.

Elke keer dat dit vir hom voel dinge tussen hom en die mooie tjerrie is aan die gebeur, kom beduiwel sy ma of ds. Lackay sy planne.

Smiddae ná skool dra hy Delicia se skooltas en stap halfpad met haar huis toe.

Maar net halfpad, want Delicia het gesê haar pa gaan ’n fit kry as hy hulle saam moet sien.

So moes hulle maar elke aand om chat.

Meer as een aand het Simson aan die slaap geraak met sy Pep special wat iewers tussen sy hare verstrengel gelê het.

Die foon van hom het net-net WhatsApp opgevang en sy pleidooie by antie Mavis vir ’n meer moderne foon het op dowe ore bly val.

So dan en wan kon die twee in die aand uitglip en by die kragboks naby die parkie lekker verkeer.

Gesels was op die menu. Vry was uit.

Daarvoor was Delicia te bang vir haar derra.

“Ek wens ons kon net wegloop en ons geluk iewers onder die son gaan soek,” sê Simson toe hulle een aand weer op die kragboks sit.

Delicia giggel terwyl sy met die bos hare op sy kop speel.

“Dit klink nice,” sê sy. “Maar my derra sal jou morsdood slaan.

“Hy het hoeka nou die aand tydens aandete geskimp dat jy reguit hel toe gaan.”

“Hoe so?” vra Simson nuuskierig.

“My pa reken daar is nie in die hemel plek vir ’n mansmens met sulke lang hare en wat glad nie kerk toe kom nie,” antwoord Delicia.

“Maar,” voeg sy toe vinnig by, “ek stem nie saam nie. Kyk net hierdie sterk arms van jou. En nou die anderdag toe jy daai groot boomstomp by die skool eenkant toe gesleep het ... Jy is die sterkste, sterkste ou in hierdie hele droewige dorp.”

Daardie aand maak Simson nie ’n oog toe nie.

Nie omdat hy te sterk is vir Klaas Vakie nie, maar omdat Delicia se woorde by hom spook.

Die volgende oggend aan die ontbyttafel kan hy nie meer die vrae keer wat in sy kop ronddwaal nie.

“Mammie, hoekom gaan ons nie kerk toe nie? Hoekom is ek nooit gedoop of bevestig nie? Hoekom hou ds. Lackay nie van my nie?”

“Want ’n kom het nie ’n hoek nie,” is antie Mavis se kortaf reply. Toe skep sy vir haar ’n bakkie Jungle Oats en gaan sit op die stoep.

Simson skud sy kop verdwaas. Maar darem ook nie te veel nie, uit vrees dat sy hare in sy oats gaan beland.

Toe strike ’n idee hom. Soveel so dat hy sy bakkie pap net daar los en hom gaan klaarmaak vir skool. Hy moet eenvoudig net so gou moontlik met Delicia praat ...

SIMSON kan nie wag dat pouse aanbreek nie.

Sommer in die klas al wou hy die issue met Delicia bespreek, maar juf. Beneke was op haar stukke en het hulle toegegooi met die werk. So asof dit húl skuld was dat Covid-19 die hele jaar omver kom gooi het.

Toe die klok lui vir pouse, haas hy hom na die spot waar hy en Delicia mekaar altyd ontmoet.

Van ver af sien hy daar staan iemand by haar.

Haar klokhelder laggie kom na hom aangesweef. Toe hy sien met wie sy so staan en ginnegaap, sak sy plak.

Carlos Koekemoer se spiky hare het hy al van ver af herken.

Carlos, hul skool se hartebreker. Die eerstespan-rugbykaptein.

Carlos, wat altyd stap asof die roll-on onder sy arms nie droog wil raak nie en wat al menige skoolmeisie se hart gebreek het.

Nou wat sal Delicia saam met hóm staan en gesels? wonder Simson sommer vies en gee lang, lang treë tot by hulle.

Simson bespeur die ongemak toe hy by die twee kom. Carlos is soos gewoonlik die volste van homself, maar Delicia kan hom nie in die oë kyk nie.

Hy wat Simson is, gluur Carlos toe maar aan totdat dié ’n flou verskoning uitkrap en traag wegloop.

“Waaroor het jy dan nou so lelik gelag?” vra Simson.

“Wie? Ek?” vra Delicia met ’n pruilmond.

“Nee, jy verbeel jou. Carlos het net vir my ’n bietjie wiskunde verduidelik wat ek nie so lekke’ verstaan het nie.”

Hy wat Simson is, weet onmiddellik sy jok; Delicia is ’n boffin in wiskunde.

En Carlos is dommer as grond. Een plus een is vir hom net so ’n mission soos dit vir ’n voormalige president van die land was.

Hy besluit egter om die saak nie verder te bespreek nie.

Hy gaan nie toelaat dat Carlos hom by die groot liefde van sy lewe ’n traan druk nie.

“Weet jy miskien hoekom my ma en jou pa mekaar so dislike?” verander Simson die onderwerp.

Delicia trek haar skouers op.

“Het nie ’n clue nie, maar Carlos sê wanneer grootmense nasty is met mekaar, is daar gewoonlik ’n history waarvan die jong mense nie weet nie.”

“Wat het Carlos hiermee uit te waai?” vra Simson ’n bietjie te skerp na sy eie sin.

“Is jy jealous?” kap Delicia terug. “Jealousy makes you nasty, you know.”

“Sal ek nou jaloers wees op ’n boejong wat sy pittekop spiky wil force?” antwoord Samson grommend.

Delicia trek haar asem skerp in.

“O? So jy kyk nou neer op ander wie se hare nie so glad soos joune is nie?

“Jy dink jou hare maak jou beter as ’n ander mens?”

“Nee, nee, dis nie wat ek bedoel het nie,” probeer Simson walgooi. “Ek–”

Delicia gee hom egter nie die kans om te verduidelik wat hy bedoel het nie.

Vies ruk sy haar kop op, draai om en stap weg.

Reguit na Carlos, wat eenkant met ’n paar tjommies staan en gesels.

Simson staar haar oopmond agterna. Hy kan nie glo wat pas gebeur het nie.

Is dinge tussen hulle twee dan nou verby?

En dít nog voordat dit even begin het?

Nog voordat hy haar van sy plan kon vertel het?

Toe die skoolklok lui, stap Simson sleepvoet klas toe.

In die klas ignoreer Delicia hom vir die res van die dag soos ’n stopstraat in Philippi.

Aan die einde van die dag vat sy net haar sak en stap huis toe – sonder om vir hom te wag.

Daar is duidelik troubles in paradise – en dít nog voordat die hekke eens aangesit is.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters