Verlede maand
Uur van waarheid breek aan toe die wond opgepatch is
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Wraak van die Gebrokenes” is GWENDOLINE KORDOM se nuutste verhaal. Geniet nou die vierde hoofstuk!

OP PAD na die dokter voel John ’n onsekerheid aan hom knaag. Die nag se gebeure het hul tol geëis. Rondom hom is die stad stil en hy hoor geen ander voertuie nie. Net die bakkie se dreuning.

Hy wonder wat dit is omtrent die nag wat ’n mens so weerloos laat. Die manier waarop Cheslyn na hom gegryp het, spook by John. Asof hy sy laaste hoop was. Asof daar iewers in Cheslyn nog ’n stukkie hoop op menswees was.

John kry die dokter se woning sonder veel moeite. Hy parkeer die bakkie naby die agterdeur ingeval enige iets skeefloop.

Toe klim hy uit en stap op ’n groot metaaldeur af. Terwyl hy nog sy hand lig om te klop, swaai die deur skielik voor hom oop.

’n Ouerige man met grys hare wat windskeef staan, verskyn in die opening. Op die punt van sy neus rus ’n swartraambril wat lyk of dit enige oomblik daar gaan afgly. Hy is geklee in ’n groen japon en ’n paar maroen pantoffels wat John aan sy oorlede oupa s’n laat dink.

Dan kyk hy oor John se skouer en vra in ’n growwe stem: “Waar is die pasiënt?”

“In die bakkie,” antwoord John.

“Waarvoor wag jy? Bring hom in!” beveel die dokter.

John wil hom byna vererg vir die man se houding, maar bedink hom.

Dit neem hom ’n ewigheid om Cheslyn oor die drumpel te kry. Toe eers steek die dokter sy hand uit om te help.

Hy beduie John in ’n lang gang af. Aan die einde van die gang staan ’n kamerdeur oop. Die dokter beduie hulle moet daar in.

Die binnekant van die kamer lyk soos enige spreekkamer. Hulle lê Cheslyn op ’n hospitaalbed neer. Die dokter gluur na hom. “Uit,” sê hy. “Ek hou nie van oë op my terwyl ek werk nie en dit is per slot van rekening my plek dié.”

Toe draai hy sy rug en begin werskaf op ’n metaaltafel in die hoek.

John klik sy tong hard voordat hy by die deur uitstap. Hy het lus en sit sy kaal hande om die man se nek. John stoom in die gang af na buite. Dan klim hy in die bakkie en wonder wat hom nou te doen staan. Moet hy wag of vlug? En wat van Cheslyn?

Die moontlikheid is goed dat hy gaan lewe noudat hy in die regte hande is. John gooi sy kop agteroor en staar voor hom uit.

Hy moes aan die slaap geraak het, want die volgende oomblik ruk ’n harde klop hom uit sy gedagtes.

Die dokter staan langs die bakkie. John rol die ruit af. “Jou vriend is buite gevaar en hy soek na jou,” sê die dokter voordat hy die huis in marsjeer. John skud sy kop en volg hom ’n paar sekondes later.

Daar skort duidelik iets met die man se sosiale vaardighede. Óf die dokter leef soos ’n kluisenaar óf hy is die kluts kwyt. John sit sy geld op sy laaste gedagte. Because no man is an island. Dit maak nie saak hoe hard ’n mens probeer alleen wees nie, jy het ander nodig. Dít is ’n les wat hy oor die jare geleer het.

Cheslyn se oë is wawyd oop en op hom gerig toe hy die vertrek binnestap.

“Ek het hom mooi opgepatch en iets vir die pyn gegee. Jou vriend kan homself gelukkig ag. Dis ’n vleeswond. Die koeël het niks belangrike organe getref nie en is deur sy skouer aan die anderkant uit.

“Jy moet hom binne 24 uur terugbring dat ek die verbande kan vervang,” sê dokter terwyl hy onrustig op en af loop. “Skoert nou.”

John voel hoe ’n woede in hom opstoot. Hy gluur na die dokter. “Dankie vir niks. Ons sal nou uit jou pad wees.”

Dan stap hy tot by Cheslyn.

“Voel jy sterk genoeg om te ry?”

Cheslyn knik. John help hom van die bed af en hulle stap uit sonder dat John weer enige aandag aan die dokter gee.

Binne minute is hulle op die pad. Terwyl hy ry, kyk John na Cheslyn, wat soos ’n zombie voor hom uit staar. “Ek gaan ons in ’n B&B inboek. Ek ken ’n plekkie aan die buitewyke van die stad. Klink dit vir jou orrait?” vra John.

“Ja,” sê Cheslyn. “Hoekom is jy nice met my? Ek wou jou vermoor.”

“Ten spyte van die onlangse gebeure sien ek iets decent in jou. Jy kon my al geskiet het, maar jy het nie. Daar is ’n rede daarvoor en ons twee gaan nog daaroor gesels,” sê John.

“Ek het niks vir jou te sê nie. Jy is die rede dat Keanan vanaand doodgemaak is,” sê Cheslyn skielik met woede in sy stem. “As hy nie jou larney kar opgepas het nie, het hy nog gelewe.”

“Ek gaan dit nie verwerdig met ’n antwoord nie,” sê John.

“Hoekom nie? Dit is jou skuld,” karring Cheslyn.

John bring die bakkie met skreeuende bande tot stilstand. Dan draai hy na Cheslyn. “Hoekom soek hulle dan na jou? Het jy vergeet jy het soos ’n besetene by my aangekom? Wat is die rede dat jy ook nou soos ek moet vlug? Hou op met jou beskuldigings en vertel liewer die waarheid, man,” braak John gal.

Cheslyn draai sy gesig weg.

“Toe, antwoord my!” bulder John.

“Ek en Keanan was besig om Charlie stukkie vir stukkie van sy geld en drugs te beroof. Ons het al van die goedere versteek en elke keer iemand as ’n scapegoat gebruik as die blok skroei. Somehow moes Charlie met sy eie ondersoek begin het, want terwyl ons in Captain se huis was, het Charlie ouens gestuur om vir Keanan uit te haal en daarna seker vir my,” sê Cheslyn.

“Bliksem,” sê John. “Mag ek vra wat die beweegrede agter alles was?”

Cheslyn draai met oë vol pyn na John. “Revenge, wat anders? Jare lank moes ek toekyk hoe Charlie my enigste suster uitpimp aan enige man met genoeg geld in sy agtersak.

“Alles het begin toe ons in die Gat kom woon het. Ek weet nie wie my regte pa is nie, maar my ma se enigste broer het ons ná haar dood ingevat.

“Ek was skaars 10 jaar oud en Anthea 12. Eers het my oom haar abuse en toe op drugs gehook gekry. Al was sy op drugs, het sy hard probeer om my op die skoolbanke en weg van die strate, maar die lewe in die Gat sluk jou in. Toe beland ek in Charlie se kloue.

“Anthea het twee jaar gelede aan ’n overdose gesterf. Van daar het die woede en wraak gegroei.

“Ek wou Charlie sien suffer en al way was om sy drug trade tot ’n val te bring.”

”Wie is Captain en hoekom het jy my laat glo dis Charlie?” vra John.

“Hulle is broers. Charlie was nie available nie en ek moes vinnig aan ’n plan dink om jou daar te hou.

“Toe jy praat van nuwe besigheid, het ek geweet ek het die jackpot geslaan. Ek sou jou nie skiet nie, maar moes die leiding neem sodat hulle my in charge van die deal sit,” sê Cheslyn.

“Ek het uit die staanspoor die idee gekry jy is ’n intelligente bliksem.”

“So, hoe maak ons nou?” vra Cheslyn met ’n grynslag.

John se oë verhard.

“Wat anders? Ons neem die wraak wat ons toekom.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters